Kleinveebedryf op ’n laagtepunt

Oplossings vir uitdagings gesoek
'n Ontleding wat deur die LPO gedoen is wys dat kleinveeprodusente se gemiddelde produksiekoste vanaf Desember 2017 tot nou met 60% gestyg het.
Francoise Steynberg
Die Namibiese kleinveebedryf is tans op ’n laagtepunt met hoë insetkostes, lae produsentepryse, bemarkingsuitdagings en ’n voortslepende droogte wat boere lamlê, sê die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO).
Kleinveeprodusente se frustrasies en bekommernisse het verteenwoordigers van die LPO-bestuur
genoop om in Augustus ’n besoek aan sy lede in die onderskeie kleinveestreke te organiseer om deeglik te besin oor wat die grootste uitdagings is en wat die oplossings is om dié bedryf vorentoe te vat.
’n Ontleding wat deur die LPO gedoen is wys dat kleinveeprodusente se gemiddelde produksiekoste
vanaf Desember 2017 tot nou met 60% gestyg het.
“Daarteenoor het produsentepryse slegs met ’n skamele 5% gestyg. Dit is dus duidelik hoekom die kleinveebedryf onder druk is en dan word daar nie eens gepraat van die ander faktore soos droogtes wat bykomend nog ’n rol speel nie,” sê die LPO in ’n nuusbrief van die Namibië Landbou-Unie (NLU).
Die uitvoer van kleinvee na Suid-Afrika is ook onder die loep tydens die vergaderings geneem en is daar in
konteks gekyk hoe dit in die Suid-Afrikaanse mark inpas.

BESLAAN 5% VAN SA MARK
“Tans maak die Namibiese produk slegs sowat 5% van die Suid-Afrikaanse mark uit. Suid-Afrikaanse veeprodusente glo dat Namibiese skape hul veepryse negatief beïnvloed. Dit is van uiterste belang om hierdie wanpersepsie te takel.”
Tydens die LPO se sloertoer is ’n interaktiewe gespreksessie met kleinveeprodusente gehou, wat
deelnemers in staat gestel het om hul uitdagings te deel en potensiële oplossings voor te stel.
Die vergaderings was energiek, volgens die LPO.
“Die oplossings het van gebied tot gebied verskil, maar die een deurlopende behoefte wat by al die vergaderings uitgekom het, is dat skaapprodusente meer beheer oor hul produk wil hê,” sê die LPO.
Meer breedvoerige terugvoer van die oplossings en aksies vorentoe vir die kleinveebedryf sal
tydens die NLU en LPO se streekvergadering op Keetmanshoop op 2 Oktober bespreek word.

GROOTVEE-SLOERTOER
Die grootvee-produsente kom middel September aan die beurt.
Die bestuur van die LPO besoek vanaf 16 tot 19 September grootvee-gebiede om saam met sy lede oplossings te vind vir die uitdagings wat dié bedryf tans ondervind.
Beesprodusente, wat lede is van die LPO, word hartlik genooi om hierdie vergaderings by te woon op 16 September op Okahandja vir osproduksie, op 17 September op Gobabis vir speenkalfproduksie, op 18 September op Grootfontein, ook vir speenkalfproduksie en op 19 September op Otavi rakende osproduksie. (Sien die dagboek op bladsy 3 vir meer besonderhede.)

VEEBOER VAN DIE JAAR
Intussen is die LPO se Veeboer van die Jaar-kompetisie vir 2024 in volle swang met groot opwinding wat heers. Altesaam 18 topgehalte-inskrywings is ontvang en die eerste twee rondes beoordeling is reeds afgehandel. Agt finaliste het suksesvol na die finale ronde deurgedring.
Van 9 tot 18 September besoek ’n span kundiges dié agt finaliste se plase om ’n finale deeglike
beoordeling te doen. Hierdie beslissende fase sal bepaal watter drie finaliste aangewys sal word.
Die wenner sal by ’n gesogte geleentheid in Windhoek op 4 November 2024 aangekondig word, wat
belanghebbendes in die landbougemeenskap bymekaarbring.
Toyota SA, het danksy die toegewyde ondersteuning van Pupkewitz Toyota, ’n splinternuwe 2.4 enkelkajuitbakkie as eerste prys geborg. Hierdie opwindende prys dra by tot die aansien van die kompetisie.
Die jare lange borg, Feedmaster, dra ook by tot die geleentheid met ’n prys vir die wenner, wat hul verbintenis bevestig om uitnemendheid in die bedryf te erken. Daarbenewens sal Sinclair Services, die LPO en Swavet opwindende pryse vir tweede en derde plekke verskaf, wat verseker dat alle finaliste erken word vir hul harde werk en toewyding.
Soos die kompetisie vorder, groei die afwagting steeds, en ons sien uit daarna om die prestasies
van ons veeprodusente te vier. – [email protected]