Koedoetrofees krimp, wys studie

Ander trofees stabiel of nóg groter
Anders as met koedoes, het die ander drie spesies stabiele of groeiende trofeegroottes oor die vyfjaarperiode ervaar.
Elvira Hattingh
Terwyl trofeegroottes van buffels, bastergemsbokke en swartwitpense in Namibië tydens ’n vyfjaarstudie stabiele of groeiende tendense getoon het, het navorsers bevind dat koedoes se trofeegroottes aansienlik gekrimp het.
In ’n studie deur die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se drs. Morgan Hauptfleisch en Matthew Walters wat vroeër vanjaar aanlyn gepubliseer is, is bevind dat koedoetrofees aansienlik groter in 2012 en 2013 as in 2014 en 2015 was.
Die navorsers meen die rede hiervoor is waarskynlik omdat groot koedoebulle minder volop geraak het omdat hulle gewild onder jagters is, maar ook weens die impak van hondsdolheid.
“Die kombinasie van hondsdolheid en dat hulle moontlik te veel gejag word, het klaarblyklik ’n negatiewe impak op die aantal groot trofeë wat beskikbaar is, asook die nasionale bevolking van dié bokspesie,” het die navorsers gesê.
“Koedoes is hoog in aanvraag vir trofeejag in Namibië. Die endemiese teenwoordigheid van hondsdolheid onder koedoes asook die feit dat dit klaarblyklik maklik binne koedoekuddes versprei, het voorheen episodies tot ’n beduidende inkrimping van die koedoebevolking in sommige dele van die land gelei,” sê die navorsers.

VOLHOUBAAR
Die studie het neigings in getalle, asook die ligging en groottes van trofeë oor ’n vyfjaartydperk in ag geneem.
Drie gesogte spesies waarvoor betaal word, naamlik buffels, bastergemsbok en swartwitpens is bestudeer, asook koedoes, ’n ikoniese trofeedier wat dikwels gejag word.
Anders as met koedoes, het die ander drie spesies stabiele of groeiende trofeegroottes oor die vyfjaarperiode ervaar.
“Gegewe die beginsel dat ’n afname in trofeegroottes oor tyd ’n aanduiding kan wees dat die diere te veel gejag word, blyk dit uit die studie dat buffels, bastergemsbokke en swartwitpense nie te veel gejag word nie.
“Dit beteken hul bemarkbaarheid vir internasionale jagters is volhoubaar,” het die navorsers gesê.
Die grootste buffeltrofeë is in die noordoostelike bewaringsgebiede, spesifiek in Balyerwa en die Bwabwata Nasional Park gevind.
Wat bastergemsbokke betref, is die grootste trofee op private plase gevind. Die toptrofee onder die swartwitpense is in Bwabwata gevind, alhoewel die meeste van die grootste trofeë ook op private plase gejag is – hoofsaaklik in die sentrale dele van die land.

SUKSESVOLLE BEWARING
Die navorsers sê dat die getalle van wild in veral die Kunene- en Zambezistreek sedert die 1990’s toegeneem het, danksy aansporings wat geskep is vir die volhoubare benutting van wild deur inwoners van die gebiede.
“Oor die afgelope 20 jaar het Namibië ’n toonaangewende, alternatiewe model vir die bewaring van biodiversiteit ontwikkel, hoofsaaklik te danke aan sy gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronne-bestuursektor (CBNRM)-program, asook die feit dat groot stukke grond vir die bewaring van biodiversiteit afgestaan word.
“Die CBNRM-model word gebaseer op die regte van kommunale bewaringsgebiede om voordeel te trek uit die wild wat op hul grond rondloop, soos om vleis asook ’n inkomste uit trofeejag te ontvang,” word verduidelik.
Die bemarkbaarheid van gesogte trofeediere is egter afhanklik van die voortdurende teenwoordigheid van trofeediere van goeie gehalte binne plaaslike wildbevolkings. Sou hierdie diere té veel gejag word, kan dit in ’n onvolhoubare praktyk ontaard, is verduidelik.
[email protected]