Kritiek oor minimum loon wat verdriedubbel

Francoise Steynberg
Die verdriedubbeling van die minimum loon binne drie jaar word deur die Landbouwerkgewersvereniging (LWV)
as onvolhoubaar en skadelik vir elke plaas se finansiële posisie beskou.
Die hoofbeampte van die LWV, Danie van Vuuren, het verlede week tydens die vereniging se 36ste jaarkongres in Windhoek aan Agri Monitor bevestig dat ’n dringende gesprek met die ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping aangevra is tesame met die ander rolspelers binne die Namibië Landbou-arbeidsforum (NALF).
Verteenwoordigers by die kongres, asook die bestuur van die LWV, het hul sterk teenkanting teen die kabinetsbesluit oor die nasionale minimum loon uitgespreek en regeringsbeleid geëis wat die landbousektor bemagtig eerder as kniehalter.
“Die landbougemeenskap staan landswyd midde die ergste droogte in 100 jaar waarvolgens president Nangolo Mbumba reeds ’n ramptoestand afgekondig het. Sulke aanpassings is ondeurdag,” sê die LWV.
Die LWV meen werkskepping en die behoud van werksgeleenthede is in gevaar en werksverliese kan nie uitgesluit word nie.
“Die regering druk hierdie verhoging ten koste van ekonomiese groei en werkskepping.”
Volgens die minimum loon in die landbousektor word die huidige N$6 per uur kontantloon plus die N$650 per maand rantsoentoelae in Januarie verhoog na N$10 per uur plus die rantsoentoelae.
Geen werkgewer mag lone wat tans hoër is, laat sak na N$10 per uur nie.
In 2026 word die loon N$14 per uur en in 2027 N$18 per uur. Hierdie nasionale minimum loon sal elke twee jaar aangepas word.
“Die arbeidsministerie se infaseringsmodel met sy geweldige spronge is onhaalbaar: Van die huidige N$6 per uur na N$10 per uur (67%), gevolg deur ’n sprong na N$14 per uur in Jaar 1 (40%) en ’n sprong van N$18 per uur in Jaar 2 (22%). Dit is onbekostigbaar,” meen die LWV.
Dié aankondiging het ’n demper geplaas op die kongres se tema van Positiewe Dinamika in Landbou wat juis gefokus het op opleiding in die landbousektor.
Die bekende boer Eckhart Förtsch was een van die gassprekers wat die rol beklemtoon het wat opleiding kan speel om die landbousektor verder te ontwikkel.
Christo Brisley het die verskeie Namibië Opleidingsowerheid (NTA)-geakkrediteerde opleidingsprogramme wat Agra ProVision aanbied, bespreek.
Intussen het die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF) ook hul ontevredenheid uitgespreek en gesê konsultasies oor die nuwe nasionale minimum loon was onvolledig en hul bekommernisse is nie voldoende voor die besluit oorweeg nie.
Die NEF het die besluit as voortydig en eensydig en sonder die nodige drieparty-konsultasies beskryf. ’n Beroep is ook op die arbeidsminister Utoni Nujoma gedoen om die loonbevel om te keer.
[email protected]