Kunsmis ruk akkerbouers se sakke
APV beplan hul strategie
Ander beduidende uitgawes sluit saad, elektrisiteit en chemikalieë in, wat volgens streek en die tipe gewas wissel.
Kunsmis, elektrisiteit, chemikalieë, brandstof, saad en arbeid is geïdentifiseer as uitgawes wat beduidend tot produksiekoste van akkerbouers bydra.Dit is bevind by die Akkerbouprodusente-vereniging (APV) se tweedaagse strategiese beplanningsessie by Simayna River Lodge naby Nkurenkuru in die Kavango-Wesstreek, wat deur 31 verteenwoordigers bygewoon is.
Die voorsitter van die APV, Gerhard Engelbrecht, het op die doeltreffende bestuur van insetkoste gefokus.
Leigh-Ann Nehoya van die Namibië Landbou-unie (NLU) het ’n voorlegging aangebied oor verskeie gewasse, naamlik mielies, grondbone en sonneblomme in verskeie produksiegebiede in Namibië, spesifiek Summerdown, die Mieliedriehoek en die Kavango-groenskemas.
Daar is bevind dat kunsmis die grootste uitgawe vir meeste gewasse is, dikwels tussen 20% tot 30% van die totale koste. Ander beduidende koste sluit saad, elektrisiteit en chemikalieë in, wat volgens streek en die tipe gewas wissel. Bykomende uitgawes soos brandstof, arbeid (voltydse en kontrakwerkers) en vervoer na die mark dra ook beduidend by tot algehele produksiekoste.
Die APV sal dus ’n groot rol in die fasilitering en koördinasie van gesprekke met insetverskaffers speel.
INVOER VAN KUNSMIS
Volgens Sarel du Toit van Dascom is die invoer van kunsmis ingewikkeld en vereis tydige en betroubare inligting soos onder meer markneigings en internasionale vereistes om akkurate aankope te kan maak.
“Die landingsprys word bekostigbaar wanneer boere direk van die verskaffer koop, maar die risiko lê slegs by die boer,” het hy gesê.
Meeste internasionale maatskappye handel in grootmaat en Namibië se kunsmisbehoeftes is klein, maar Namibië s’n kan saam met verskepings na ander lande vervoer word. Die invoer van rou materiaal en om dit self te meng, is ’n opsie, maar boere word aangeraai om grondontledings te doen om die tekorte in hul grond te bepaal en daarvolgens te meng.
Volgens Lerato Ramafoko van Grain SA maak kunsmis tussen 30% en 50% van ’n Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadprodusent se veranderlike produksiekoste uit. Meer as 80% van SA se kunsmisbehoeftes word ingevoer. SA het net stikstof- en fosfaatbronne, en ureum en kaliumchloried word ingevoer.
Namibië voer 100% van sy kunsmis in. As gevolg van die hoë invoerkoste en pryse van kunsmis, is dit oor die algemeen nie ’n bekostigbare item vir saaiboere in Namibië nie. Daarbenewens word die plaashekprys van kunsmis deur die rou materiaal en produksiekoste, logistiek en verspreidingskoste, invoerbelasting en belasting, markvraag en beleid bepaal.
Sy sê die beste manier om voedingstofverliese te verminder, is deur nutriëntbestuurspraktyke, verbetering van grondgesondheid en die voorkoming van die gebruik van laegehalte-kunsmis.
Rolspelers sal voortgaan met bewusmaking van die belangrikheid van grondontledings vir boere om die samestelling van hulle grond te ken, sodat wanneer hulle kies om die rou materiaal te meng, die mengsel gedoen kan word volgens die spesifieke grondvereistes.
Die APV sal die proses fasiliteer om hoeveelhede vas te stel en verdere betrokkenheid met verskaffers organiseer.
Voorts is die doelwitte om te raadpleeg oor brandstofkortings, saadbestuur en om bewustheid te bly skep oor die verskillende chemikalieë en hul gebruik.
STRATEGIE
Gilbert Mulonda, die hoofbestuurder van die Namibiese Akkerbouraad (NAB), het gesê die strategie vir die gewaswaardeketting en die implementeringsplan van 2025-’26 tot 2029-’30 is in lyn met die verskillende planne van die regering.
Sommige van die strategiese doelwitte wat geïdentifiseer is, sluit die ontwikkeling van ’n omgewingsvolhoubare, doeltreffende en kostedoeltreffende plaaslike insetbedryf in om die mededingendheid van die gewassektor te ondersteun; om ’n bevorderlike produksie-omgewing te skep, wat konsekwente en betroubare voorrade van plaasprodukte het om gewaswaardekettings te ondersteun; en om doeltreffende bemarkingsmaatreëls te fasiliteer en te bevorder.
Die strategiese inisiatiewe word aan verskillende produksiegebiede toegewys, volgens hul vereistes en geïdentifiseerde gewasprioriteite. Die monitering- en evalueringsplan sal gebruik word om die vordering te monitor en te evalueer.