Landbou se uitblinkers bekroon

Förtsch ontvang staande applous
Die NLU het verskeie landbousterre bekroon – van 'n gemeenskapsprojek wat honger kinders voer en 'n kleinveeprodusent wat as inspirasie vir ander kan dien tot 'n jarelange landbouleier.
Elvira Hattingh
Tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en die Namibië Landbou-unie (NLU) se kongresse verlede week Dinsdag en Woensdag, het verskeie presteerders uit die landbousektor erkenning ontvang.
Helmut Förtsch, wat lank die voorsitter van die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) was, het ’n staande applous ontvang toe die hoogste toekenning van NLU AgriSter aan hom oorhandig is.
Piet Gouws, die NLU se uittredende president, het gesê Förtsch het sedert Oktober 1996 ’n “absolute onbaatsugtige diens en ondersteuning” aan die NLU en die LWV gebied.
“Förtsch is iemand wat ons almal baie na aan die hart lê, enige tyd van die dag beskikbaar is en die afgelope jaar ’n moeilike pad gestap het.”
Gouws het voortgegaan deur te sê die AgriSter-toekenning gaan aan mense wat ’n buitengewone bydrae tot landbou in die land gelewer het – met toegewydheid, optimisme en deurlopende onbaatsugtige diens aan die bedrywighede van die landbou-unie. Die persoon moes – onder meer – volgehoue dinamiese leierskap getoon het en ’n impak op plaaslike-, streek-, nasionale- en selfs internasionale landbou gehad het.
PRESIDENT
Gouws het ook ’n blyk van dankbaarheid van die nuutverkose president, Thinus Pretorius, ontvang.
“Ons bly in ’n baie groot land en Piet boer in een van die droogste dele. Ten spyte daarvan was die tyd wat die NLU van hom vereis het, ’n eerste prioriteit vir hom en het hy die afstand van 900 km – heen en weer – sonder teenstand afgelê as dit nodig was, vir 18 jaar lank,” het Pretorius gesê.
Pretorius het ook uitgetree as voorsitter van die LPO, sy pos van die afgelope vier jaar, met die LPO se ondervoorsitter, Jako van Wyk, wat voorts die leisels by hom sal oorneem.
LANDBOUVROU
Iris Stehn van die Nina-boerevereniging is as die landbouvrou van die jaar gekroon. Stehn was vir 15 jaar die sekretaresse van die boerevereniging en is ook die sameroeper en koördineerder van vuurblusaksies op radiokanale en WhatsApp-groepe.
Sy boer self met bye en dokter siek diere en danksy haar hulp en toepaslike raad is menige dier al gered. “Sy verkies om in die agtergrond te bly, met haar hoedanighede op die voorgrond wat sy met akkuraatheid, betroubaarheid en opregtheid lewer,” het die NLU se uitvoerende hoof, Roelie Venter, gesê.
GEMEENSKAPSPROJEK
Linda Pretorius se sopkombuis-projek uit die Grootfontein-gebied het die NLU se toekenning vir gemeenskapsprojek van die jaar ontvang.
Pretorius se projek verskaf reeds vir die afgelope 23 jaar kos aan kinders op Grootfontein – vyf dae per week op skooldae. Die aantal kinders wat op dié manier van kos voorsien word, het oor die jare van ’n skamele 44 tot 1 300 per dag gegroei.
’n Ton mieliemeel en 1,5 ton vuurmaakhout word maandeliks benut. Vyf vroue uit die gemeenskap maak daagliks pap in twee nr. 25-potte. In ’n derde pot word sojasous en – soos beskikbaar – ook vleis en groente gekook. Die kosmakery begin om halfses soggens.
’n Klomp boere, sakeondernemings en individue in die omgewing ondersteun die sopkombuis. Die kinders word tydens pouses van kos voorsien. Nege San-families met 52 kinders asook bejaardes word ook van kos voorsien.
“Die impak van haar projek is enorm en sy is dankbaar vir alle skenkings van mieliemeel, groente, vleis, suiker, botter, sout en skoonmaakmiddels. Sy self sê: ‘Die Here voorsien elke dag aan die behoeftiges’,” het Venter gesê.
“Pretorius geniet gedeeltelike bystand van twee internasionale organisasies, maar dit is nie voldoende om al die honger monde te voed nie. Dienooreenkomstig het sy ook haar eie Hearts, Hands & Voices Trust gestig om bydraes te ontvang,” sê Venter.
Die mediapersoonlikheid van die jaar was Matthew Dlamini van The Namibian.
KLEINVEEPRODUSENT
Die Meatmaster-boer Thorsten Lüsse is tydens die LPO-kongres op 3 Oktober as die kleinveeprodusent van die jaar aangewys, met Koos Briedenhann van Otjiwarongo in die tweede plek en die jongboer Wallace Theron van Bethanie in die derde plek.
Leon Burger het tydens die LPO-kongres ook ’n oorkonde van die Grootfontein-Tsumeb-Otavi (GTO) Streeklandbou-unie ontvang vir sy jarelange, onselfsugtige herstel van die veterinêre kordonheining (VCF), ter beskerming van die gesondheidstatus van die Namibiese veebedryf.
Die toekenning is deur die GTO se Piet Stoman aan hom oorhandig.
[email protected]