Mediese fondse is soos 'bloed uit 'n klip tap'

Francoise Steynberg
Met die landswye versengende droogte is boere finansieel in die knyp en moet die gordels op verskeie uitgawes stywer getrek word.
Volgens korttermynversekeraars is versekering en mediese fondse van die eerste uitgawes wat tydens uitdagende ekonomiese tye gesny word. Hannes Smit van Santam Namibia het dit onder meer bevestig.
Johan Liebenberg van Satib het aan Agri Monitor gesê dit is veral ’n neiging onder jonger boere wat nie die mas kan opkom nie.
Verskeie boere het moedeloos gesê om tydens die droogte mediesefondspremies te betaal, voel soos om bloed uit ’n klip te tap.
Versekeraars maan versekering en mediese fondse is juis twee noodsaaklikhede waarop nie besnoei moet word nie.
Talle boere meen egter ’n mediese fonds is deesdae ’n luuksheid en hulle kan eenvoudig nie meer die premies bekostig nie.
Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) help mediese fondse boere om die las van die droogte te verminder.
Alle mediese fondse word gereguleer deur die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) en die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf), die
beheerliggaam vir mediese fondse in Namibië.
“Die NLU het proaktief namens sy lede na die twee mediese fondse uitgereik waar die NLU
groepfondse geniet, om verligtingsmaatreëls te soek tydens die voortslepende droogte.”
Die twee mediese fondse is Namibia Medical Care (NMC) en Namibia Health Plan (NHP)
NMC sal volgens die NLU hierdie aangeleentheid by hul volgende raadsvergadering, wat vir 5 September geskeduleer is, voeg en terugvoer gee.
“NHP het ondersteuning getoon deur NHP-lede wat ook NLU-lede is, toe te laat om deur hierdie jaar
veranderinge aan hul voordele-opsies aan te bring. Verandering van voordele-opsies kan onder
normale omstandighede slegs tot einde Januarie vir die nuwe voordeeljaar aangevra word,” lui die NLU se weeklikse nuusbrief.
Lede wat aanpassings aan hul huidige mediesefondsopsie wil maak, kan hul aansoekvorms na
[email protected] en die NLU-kliëntagent, Ndahambelela Shiweda, by
[email protected] stuur.
“Elke geval sal persoonlik beoordeel word, met inagneming van die ledevoordele wat tot op datum benut is.”
Nammed-lede kan aansoek doen om hul voordele-opsies af te gradeer na ’n meer kostedoeltreffende opsie.
By Nammed sal elke geval ook persoonlik beoordeel word, en is onderhewig aan die raad se goedkeuring. Stuur ’n e-pos aan [email protected].
Die NLU moedig alle lede aan wat hulp nodig het, om van hierdie geleentheid gebruik te maak en met enige bekommernisse of vrae uit te reik.
Volgens die NLU het NHP ook gekommunikeer dat sommige lede wat ook Sanlam-begrafnispolishouers is, deurlopend verkeerdelik die maandelikse premies in die NHP-bankrekening inbetaal, in plaas van Medscheme Namibia se bankrekening.
[email protected]