Meer wild as mense in Namibië

Etiese jag help met groei in wildgetalle
Die feit dat daar na raming tans meer wilde diere as mense in die land is, word toegeskryf aan etiese jagbedrywighede.
Elvira Hattingh
Die jongste raming plaas die nasionale wildbevolking op net meer as drie miljoen diere en die meeste op rekord – iets wat deur die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) toegeskryf word aan etiese jagbedrywighede, wat hand aan hand met suksesvolle bewaring gaan.
“Napha en sy lede het bewys dat jag, waarmee wild volhoubaar benut word, verseker dat die natuurlike habitat en so ook die inwoners daarvan beskerm word. Dit sluit die wild asook plaaslike gemeenskappe in,” het die vereniging verlede week in ’n video gesê.
Die feit dat daar na raming tans meer wilde diere as mense in die land is, word toegeskryf aan etiese jagbedrywighede. Daarbenewens dra die jagbedryf finansieel aansienlik by tot teenstropingsbedrywighede, die voorkoming van mens-dier-konflik, navorsing en wildbestuur, asook vir bewaring en tot bewaringsgebiede.
In die video word gewys hoe verskeie wildsoorte se getalle oor die afgelope dekades in Namibië toegeneem het. Die syfers is gebaseer op die nasionale verslag vir wildbewaring en wetstoepassing van 2022.
Hiervolgens het nasionale wildgetalle sedert 1960 begin toeneem en is dit tans die meeste in meer as 100 jaar. Ongeveer in die jaar 2000 is 1920 se hoogtepunt verbygesteek – toe Namibië se bevolking van wilde diere sowat 1,5 miljoen was.
Die sterk bevolkingsgroei kan oraloor waargeneem word. Die aantal jagluiperds het sedert 2004 van sowat 300 tot 400 individue toegeneem na tussen 1 400 en 1 600 teen 2020. Dieselfde tendens word onder die bevolkingsyfers van hiënas waargeneem, wat vanaf meer as 500 individue gegroei het na meer as 1 400.
Witrenosters, swartrenosters, luiperds en leeus se getalle het ook gegroei. Leeus se getalle het sedert 2004 toegeneem van sowat 200 individue na meer as 300, terwyl luiperds van minder as 200 gegroei het na sowat 600.
Napha verduidelik dat tot 48% van Namibië tans onder die een of ander tipe bewaringsbestuur is – die hoogste persentasie van bewaringsbestuur in die wêreld.
[email protected]