Melk-, hoenderboere kan vir Namibië sorg

Wetsontwerp moet help met mededingendheid
Plaaslike produsente behoort in staat te wees om self in Namibiese verbruikers se behoefte aan suiwel- en pluimveeprodukte te voorsien, sê die Vleisraad.
Elvira Hattingh
Namibië behoort min of meer selfvoorsienend in suiwel- en pluimveeprodukte te kan wees, sou plaaslike produsente se mededingendheid teen goedkoop invoere verbeter kan word.
Dit is die mening van Paul Strydom, die algemene bestuurder by die Vleisraad van Namibië.
Strydom het verduidelik goedkoop invoere lei daartoe dat die bedrywe onmededingend raak.
“Die suiwelbedryf se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het beduidend gekrimp oor die afgelope jare. Beide die sektore het ‘n versoek aan die Vleisraad gerig om dit te bestuur,” het hy bygevoeg.
Hy het gereageer op onlangse nuus oor ‘n voorgestelde wetswysiging vir die vleisbedryf, waarvolgens die bestuur van die pluimvee- en suiwelbedrywe voorts die verantwoordelikheid van die Vleisraad kan raak.
“Plaaslike produsente behoort daartoe in staat te wees om self in Namibiese verbruikers se behoefte aan suiwel- en pluimveeprodukte te voorsien,” het Strydom gesê.
“Beide die sektore is egter afhanklik van invoere om hul produkte te kan voorsien. Die bedrywe word onderwerp aan goedkoper invoere, wat mededingendheid verminder.
“Daarbenewens veroorsaak maatreëls vir die beheer van dieresiektes - nasionaal asook internasionaaal - tekorte van dié produkte,” het Strydom verduidelik en verwys na die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, voëlgriep wat internasionaal uitgebreek het, asook Afrika-varkpes.
“Die wetswysiging word dus voorgestel om verdere groei van die bedrywe binne die suiwel- en pluimveesektore te bewerkstellig,” het hy verduidelik.
AGTERGROND
Dit volg nadat die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, die afgelope Woensdag ‘n wetsontwerp vir die wysiging van die Wet op die Vleisbedryf van 1981 aan die parlement voorgelê het.
Daar is voorgestel dat die Vleisraad, tans die statutêre liggaam wat die sake van die Namibiese vleisbedryf (bees, skaap en varke) hanteer, ook soortgelyke beheer oor die suiwel- en pluimveebedryf moet neem.
Daarbenewens word ‘n naamverandering vir die Vleisraad voorgestel – die Raad vir Lewendehawe en Lewendehaweprodukte.
Beide suiwel- en pluimveeprodusente het die nuus verwelkom, met veral die suiwelbedryf wat sê hulle “veg reeds agt jaar lank” vir 'n verandering van dié aard.