Mikroskyfies, die oorplaatjies van die toekoms?

Goedkoper, gebruikersvriendelike opsie reeds beskikbaar
Mikroskyfies wat rekordhouding van vee asook verifiëring van eienaarskap en 'n dier se identiteit kan outomatiseer, is ook nou plaaslik beskikbaar.
Elvira Hattingh
Mikroskyfies wat onder vee se vel ingeplant word en elektronies skandeer kan word, sal nie net waarskynlik oorplaatjies en brandmerke vervang nie, maar mag dalk help teen veediefstal en om jou diere makliker te kan uitvoer.
Boonop is die nuwe opsies vir mikroskyfies veel goedkoper as hul voorgangers.
Dit aldus Megan Wise, ’n Arabierperdteler uit die Grootfontein-omgewing. Wise, wat ’n plaaslike verskaffer van die mikroskyfies vir Namibië se landboubedryf is, het onlangs inligting oor AgriChip met besoekers aan die AgriXtra-boeredae op dié dorp gedeel.
Sy het verduidelik dat die skyfie geskik is vir beeste, perde, skape en selfs voëls, honde, katte en reptiele.
“Anders as met ’n oorplaatjie of brandmerk, kan dit nie sommer verwyder word as die dier gesteel word nie. Boonop is dit ’n goedkoper opsie as sy voorgangers, en kos dit tussen N$120 vir een, maar kan so min as N$65 kos, sou jy in grootmaat bestel,” het sy verduidelik.
Sy het beklemtoon dit is nie ’n nasporingstoestel nie – eerder ’n moderne, elektroniese plaasvervanger vir oorplaatjies en brandmerke. Daarbenewens word AgriChip se aanlyn databasis internasionaal erken en die mikroskyfies kan deur enige mikroskyfie-skandeerder gelees word.

Só WERK DIT
“Daar is drie verskillende groottes skyfies beskikbaar en dit word onder die vee se vel ingeplant – op verskillende plekke vir verskillende diere. Daarna registreer jy die dier as jou eiendom op die aanlyn databasis,” het Wise gesê.
Die skyfies word met behulp van ’n skandeerder gelees, waarvan jy ook drie verskillende soorte kry.
“Daar is een wat jy in jou hand kan hou, of een wat verleng kan word asook nog ’n skandeerder wat diere skandeer terwyl hulle onder deur die skandeerder loop. Laasgenoemde skandeerder kan byvoorbeeld vir veilings werk as daar ’n groot klomp diere is waarvan die besonderhede en eienaarskap geverifieer moet word,” het sy gesê.
“Die skandeerder kan die mikroskyfie skandeer en op die stelsel verifieer dat dit die regte dier is en wie die eienaar is,” het sy verduidelik.

VOORDELE
“Dit is ’n nuwe metode vir die identifisering van jou vee, terwyl dit jou selfs kan help met die bestuur van jou kudde. As jou vee se oorplaatjies of brandmerke verwyder word, kan jy nie bewys dat dit joune is nie, maar AgriChip kan dié probleem oplos.
“Elke AgriChip het ’n unieke nommer – elke bees kry sy eie nommer en word dan met die nommer op ’n aanlyn databasis geregistreer,” het sy gesê.
Sy sê jy kan ’n wye verskeidenheid inligting op die databasis inlees. Dit sluit in jou besonderhede as die eienaar en ook ander inligting oor die dier – soos sy geboortedatum, naam, kleur, geslag en vele meer. “Dit kan dien as ’n basis waarmee jy rekord van jou kuddes kan hou.”
“Elke dier kry ’n sertifikaat, wat boonop handig te pas kom as jy diere wil uitvoer. Dit kan dan net deur ’n veearts geverifieer word,” het Wise verduidelik.
Wise kan by 081 623 7314 gekontak word vir meer inligting.
[email protected]