NAB verbied invoere van 10 groentes
Namibië het genoeg vir Desember
Die grens word maandeliks oop- en toegemaak na gelang van die plaaslike beskikbaarheid van 18 spesiaal beskermde tuinbou- en akkerbouprodukte.
In Desember sal slegs botterskorsies, Engelse komkommers, skorsies, uie, gewaste aartappels en gewone pampoen na Namibië ingevoer word. Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) het ’n verbod op die invoer van beet, kool, wortels, gekleurde soetrissies, groen soetrissies, konfyt-tamaties, waatlemoen, spanspek, blaarslaai en spinasie geplaas – hoofsaaklik omdat Namibië tans self genoeg hiervan geproduseer het.
Terselfdertyd kan patats en soetmielies slegs op ’n pro rata-basis ingevoer word: 50% invoere sal steeds op beide produkte toegelaat word.
Dit is ingevolge die akkerbou-nywerheidswet asook die markaandeel-promosieskema (MPS) se reëls en regulasies. Die grens word maandeliks oop- en toegemaak na gelang van die plaaslike beskikbaarheid van 18 spesiaal beskermde tuinbou- en akkerbouprodukte.
Daarbenewens vereis die MPS dat Namibiese handelaars ’n sekere persentasie produkte plaaslik moet aankoop, voor hulle dit van buite Namibië kan verkry. Dié persentasie het aanvanklik met 5% begin en staan tans op 47%.
Die doel is om handelaars aan te moedig om plaaslik geproduseerde produkte eerder as ingevoerdes aan te koop.
In Februarie vanjaar kon slegs vier beskermde produkte ingevoer word en in Mei so min as drie. Daarteenoor is agt produkte in Oktober toegelaat om ingevoer te word, asook nog vier ander op ’n pro rata-basis.
PRODUKSIE VERBETER
Dr. Fidelis Mwazi, uitvoerende hoof van die NAB, het onlangs tydens hul nasionale toekennings vir die akkerbou- en tuinboubedryf gesê tuinbouproduksie in Namibië neem stelselmatig toe.
“Terwyl daar in die boekjaar 2011-’12 plaaslik net meer as 30 000 ton vars produkte geproduseer is, het dié syfer in 2021-’22 op 40 465 ton gestaan. Die syfer gaan op en af, maar die oorhoofse trajek is opwaarts,” het hy gesê.
Mwazi sê as dit by uitvoere kom, het dieselfde gebeur.
In die boekjaar 2011-’12 is sowat 22 429 ton vars produkte uitgevoer, terwyl die jongste syfer op meer as 59 000 ton staan.
“Die groei is hoofsaaklik aan die uitvoer van tafeldruiwe en dadels toe te skryf, maar ook tamaties en uie,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat aartappels, appels, piesangs en lemoene onder die top- tuinbouprodukte tel wat die meeste in 2020-’21 ingevoer is.
Namibiërs se top-aankope oor dié tydperk was aartappels (N$96 miljoen), tamaties (N$34 miljoen), wortels (N$31 miljoen), Engelse komkommers (N$30 miljoen), uie (N$24 miljoen) en kool (N$21 miljoen).
Mwazi het ook gesê vanjaar was ’n rekordoes vir Namibiese mielieboere op 90 895 ton asook vir koringboere op 18 498 ton.
– [email protected]