Namibiese dadels gesog in Indonesië (AGRI MONITOR)

Wedersydse handel styg met 134%
Die Indonesiese ambassade in Namibië het aangekondig dat Namibiese studente vir beurse by 31 van hul universiteite kan aansoek doen.
Francoise Steynberg
Dadels is van die grootste uitvoerprodukte van Namibië na Indonesië, volgens die Indonesiese ambassade in Namibië.
Met die groot Moslem-bevolking wat 87 persent van die eilandnasie uitmaak, is Namibiese dadels veral gesog tydens die Ramadan-tydperk.
Dadels was verantwoordelik vir die hoof-uitvoerverdienste van Namibiese akkerbouprodukte op N$25,8 miljoen.
Volgens die hoof van ekonomiese sake van die Indonesiese ambassade in Windhoek, dr. Sulthon Sjahril, voer die land met sy tienduisende eilande benewens dadels, ook gevrieste krap, tin en sink vanaf Namibië in.
“Handel tussen die twee lande het vanaf 2014 tot verlede jaar met 134 persent gegroei,”het hy gesê.
“Die wedersydse handelswaarde het in 2014 op US$4,4 miljoen gestaan en in Oktober 2023 op US$10,3 miljoen.”
Namibië voer tekstielware (veral batik) , meubels, buitebande, papierprodukte, visprodukte en kos en drank van Indonesië in.
Adi Hadiman van die ambassade se sosio- en kulturele inligtingsake het bevestig dat drie beplande landbouprojekte in Namibië aan die Indonesiese regering vir goedkeuring voorgelê is.
Voorts het die Universiteit van Namibië (Unam) en die Indonesiese Parahyangan Catholic University (Unpar) ‘n memorandum van verstandhouding om akademiese bande in verband met navorsingspsrogramme, ook die gebied van landbou en -tegnologie, tussen die twee tersiêre instellings te bevorder.

BEURSE VIR NAMIBIESE STUDENTE
Adaman het aangekondig dat altesaam 31 universiteite regoor Indonesië beurse vir internasionale studente in 1 475 programme vir Baccaleurs-, meesters- en doktersgrade vir die 2024/2025 akademiese jaar aanbied.
Namibiese studente word uitgenooi om aansoek te doen en kan die ambassade in die verband kontak of die webtuiste besoek by https://knb.kemdikbud.go.id.
Die sperdatum vir aanlyn-aansoeke is 23 Februarie. – [email protected]