Namibiërs eet ‘by die huis’

Koop eerder plaaslike produkte
Volgens die Vleisraad van Namibië se maandelikse statistiek, het die verbruik van plaaslike beesvleis in April met 8% op 'n jaar-tot-jaar-basis verbeter.
Elvira Hattingh
Terwyl die prys van speenkalwers aanhou om te daal en boere steeds noodbemarking doen noudat die winter aanbreek, begin Namibiërs al hoe meer plaaslik geproduseerde produkte verbruik.
Volgens die Vleisraad van Namibië se maandelikse statistiek, het die verbruik van plaaslike beesvleis in April met 8% op ’n jaar-tot-jaar-basis verbeter.
Dit het daartoe gelei dat die uitvoer van beesvleis vanaf 958 221 kg in April 2022 tot 881 535 kg in April vanjaar verminder het.
Dit is glo danksy beter plaaslike marges – wat verwys na die verskil tussen plaaslike kleinhandelaarspryse teenoor produsente se karkaspryse. Plaaslike kleinhandelaars se beespryse in April vanjaar was gemiddeld N$96,30/kg, sê die Vleisraad.
Jaar-tot-datum-beesuitvoere het op 2 533 748 kg teen die einde van April gestaan in vergelyking met 3 001 904 kg oor dieselfde tydperk in 2022.

INVOERE VERMINDER
Die invoer van beesvleis is minder as in 2022 en dit is toe te skryf aan die verbeterde beskikbaarheid van plaaslike beesafval, wat tradisioneel die produk is wat die meeste ingevoer word, verduidelik die Vleisraad.
Op ’n jaar-tot-jaar-basis was beesvleisinvoere 47,8% laer as in dieselfde tyderk in 2022. Daarbenewens het die jaar-tot-datum-invoere ook met 49,6% gedaal.

SKAAP
Danksy verbeterde skaapslag-aktiwiteite het die uitvoer van skaapvleis met 136,7% in April vanjaar verbeter, teenoor April 2022.
Die Vleisraad sê Suid-Afrika bly die vernaamste uitvoerbestemming vir Namibiese lamsvleis en skaapvleis – dié mark koop sowat 57,3% van alle uitvoere op. Die oorblywende 42,7% is na Noorweë uitgevoer.
Die Noorweegse mark bly ’n winsgewende bestemming vir lamsvleis wat ontbeen is en boonop ondersteun dit waardetoevoeging binne die skaapsektor, wat tot beter pryse vir skaapprodusente lei.
Die verskil in die prys van skape tussen die Noord-Kaapse abattoirs en Namibiese abattoirs het toegeneem in die guns van Namibiese skape. Tog het die verskaffing van skape aan plaaslike uitvoerabattoirs nie hierop gereageer nie, wat dui op faktore in die verskaffingsketting wat dalk moeilik aanpasbaar is.

SPEENKALFPRYS
Speenkalfpryse daal egter voortdurend op ’n maand-tot-maand-basis sedert die begin van dié jaar.
Dit kom in ’n tyd waar beesprodusente markte soek en van hul diere ontslae wil raak, voor die droogte toeslaan. Die hoop is dat hulle veeverliese kan voorkom.
Ongeag die verbeterde pryse wat uitvoerabattoirs aanbied, sal droogtetoestande waarskynlik verhoed dat die verwagte volume van B2-speenkalwers by slagplase realiseer.
Terselfdertyd word daar nie verwag dat die Suid-Afrikaanse speenkalfprys gaan verbeter nie. Die faktore wat dit waarskynlik sal verhoed, is die noodbemarking deur Namibiese produsente, terwyl Suid-Afrikaanse voerkrale onder druk verkeer.
Botswana bly steeds Namibië se grootste mededinger as dit kom by die lewende uitvoer van beeste na die Suid-Afrikaanse mark. Dit kom nadat dié land Namibië se posisie as die nommer een-uitvoerder van speenkalwers na Suid-Afrika oorgeneem het.
[email protected]