Napha uitgenooi na Franse Wildskou

Jagters vandeesweek byeen in Salzburg
Die Franse afvaardiging van die International Council for Game and Wildlife Conservation (CIC) het 'n aansienlike uitstalruimte aan Napha gebied.
Francoise Steynberg
Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) het die eer te beurt geval deur na die Franse Wildskou genooi te word wat vanaf 14 tot 16 Junie plaasvind.
Die president van Napha, Axel Cramer, het gesê dit is ’n bewys van die vereniging se gerespekteerde aansien in die internasionale jaggemeenskap.
Die Franse afvaardiging van die International Council for Game and Wildlife Conservation (CIC), het ’n aansienlike uitstalruimte binne die Country of Honour Village aan Napha gebied.
“Dit bied ’n geleentheid om Namibië se jag-erfenis, toerisme, kuns en kultuur aan meer as 92 000 besoekers te bevorder,” het hy gesê.
Napha oorweeg die uitnodiging na die skou en het ’n peiling via WhatsApp onder sy lede, asook rolspelers in die toerismesektor, gesirkuleer om die belangstelling te bepaal.
Dit volg ná Napha sy verbintenis tot omgewingsbewaring en volhoubare jagpraktyke ten toon gestel het by die onlangse Jagd & Hund-jagskou 2024 in Dortmund, Duitsland.
“Europa se voorste skou vir jag en buitemuurse geleenthede, het gedien as ’n ideale verhoog vir Napha om belangrike inligting oor bewaringsjag met die publiek te deel,” het Cramer gesê.
“Ons het interaksie met skougangers by die Napha-stalletjie gehad, waar ons die belangrikheid van verantwoordelike jag in Namibië beklemtoon het.”
Cramer het in samewerking met CIC ’n insiggewende aanbieding gelewer waar hy die deurslaggewende rol van gereguleerde jag in wildbewaring benadruk het, asook hoe dit omgewingsbewaring en die welsyn van kommunale gemeenskappe van Namibië ondersteun.
Hy het ook die ouderdomsgereguleerde metingstelsel aangebied, ’n metode wat die jag van ouer wild bevorder, wat aansluit by natuurbewaring en voordele vir plaaslike gemeenskappe deur werkskepping en die verspreiding van hulpbronne.
Napha sê dit weerspreek die wanopvattings rondom trofeejag doeltreffend, en beklemtoon die noodsaaklike rol daarvan in bewaring en ekonomiese ontwikkeling binne Namibië.
Cramer het voornemende besoekers aangemoedig om verantwoordelik by Namibië se uiteenlopende omgewings betrokke te raak en die land se ryk kultuur en toewyding aan bewaring buite jag te ervaar.
“Napha se betrokkenheid by die Jagd & Hund 2024 en die potensiële deelname aan die Franse Wildskou weerspieël ons proaktiewe benadering tot die bevordering van volhoubare jag. Hierdie geleenthede bied platforms om begrip, samewerking en bevordering van Namibië as ’n toonaangewende bestemming vir etiese jag en wildbewaring te bevorder,” het hy gesê.
Die volgende jagskou wat Napha-lede sal bygewoon, is Die Hohe Jagd & Fischerei wat vanaf 22 tot 25 Februarie in Salzburg in Oostenryk sal plaasvind.
[email protected]