Noodtoestand oor droogte te laat, sê landboukenner

Francoise Steynberg
Die Namibië Landbou-unie (NLU) is verheug dat president Nangolo Mbumba ’n nasionale noodtoestand verklaar het weens die huidige voortslepende droogte.
’n Bekende landboukenner is egter van mening dat dit te laat is.
In ’n gesamentlike aksie het verteenwoordigers van die NLU, die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) en die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) reeds ’n maand gelede op 4 April ’n besoek aan die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, afgelê om verskeie voorstelle te bespreek.
Die unies het onder meer gesamentlik versoek dat die president van Namibië die 2024-droogte tot ’n nasionale ramp verklaar en droogtehulpmaatreëls so vroeg as moontlik binne ’n rampjaar moet begin wat alle streke insluit en regdeur die jaar beskikbaar moet wees.
Die derde versoek was dat alle akkerbouers wat deur die droogte geraak word, deur ’n spesiale program ondersteun word om voedselsekerheid te waarborg.
Die Staatskoerant 8370 van 2024 gepubliseer op 27 Mei boekstaaf dat, kragtens Artikel 26 (I) van die Namibiese Grondwet, saamgelees met Artikel 30 (3) van die Wet op Ramprisikobestuur 2012 (Wet No. 10 van 2012), die staatshoof met ingang van 22 Mei 2024 ’n noodtoestand in Namibië verklaar as gevolg van die voortslepende nasionale rampdroogte in alle streke van Namibië.
Die noodtoestand is vanaf 22 Mei van krag.
Die afkondiging van die noodtoestand volg op ’n onlangse opmerking deur Schlettwein dat Namibië die ergste droogte in meer as 100 jaar in die gesig staar en tans sowat 331 000 huishoudings landswyd geregistreer is om droogtevoedselhulp te ontvang.
Die NLU-president, Thinus Pretorius, het sy tevredenheid uitgespreek en gesê: “Die nodige protokol kan nou voorberei word om die droogte in al die streke te takel en die begrote N$825 miljoen vir hulpmaatreëls te ontsluit.”
Volgens ’n kabinetsbesluit is die verdeling van dié N$825 miljoen soos volg:
• N$600 miljoen vir voedselhulp tot 30 Junie 2025, asook
• N$100 miljoen elk vir vee en watervoorsiening, en
• N$25 miljoen vir saad en ander landbou- en akkerboubehoeftes tot 31 Maart 2025.
Die landboukenner Wallie Roux meen egter die noodtoestand kom te laat.
“Ek glo dat elke landbouprodusent dankbaar is dat die president uiteindelik ’n noodtoestand afgekondig het, maar waarom nou eers nadat die skade reeds sigbaar is?” vra hy.
“Dit ten spyte van vroeë aanduidings dat die El Niño-stelsel aan die ontwikel was, kon die regering se vroeë waarskuwingstelsel blykbaar nie die verskynsel optel nie.
“Die verskuiwing van die land se reënpatroon vanaf noordoos en dan oor die land na noordwes met ’n sentrale strook na suidoos, was al vroeg duidelik.
“Selfs die stand van die land se belangrikste opgaardamme het daarvan getuig. Synde die tekens reeds lankal op die tafel was, waarom nou eers optree?
“Waarom moes die landbou-unies die regering gaan vra het om die droogte te erken en as sodanig te verklaar?” vra Roux.
“Tans is baie skade reeds aangerig en dit kon getakel gewees het sou die regering betyds opgetree het.”
[email protected]