Nuwe akwaponikaplaas se blaarslaai op winkelrakke

Geen chemiese kunsmis of pesdoders
Akwaponika, soos hidroponika, gebruik net 10% van die water wat produksie in grond benodig en is dus 'n logiese oplossing vir sentrale Namibië.
Elvira Hattingh
In Okahandja het een van Namibië se jongste akwaponika-fasiliteite pas begin om vars groen blaarprodukte aan Freshmark te verskaf, wat beteken dit is landswyd op die winkelrakke van die Checkers-groep beskikbaar.
“As jy na lugfoto’s kyk, sal jy sien hoe droog dit in Okahandja is,” verduidelik Ryno Postma, ’n geoktrooieerde rekenmeester en kommersiële direkteur van Oribi Aquaponics, ’n Namibiese trust.
Akwaponika, soos hidroponika, gebruik net 10% van die water wat produksie in grond benodig en is dus ’n logiese oplossing vir sentrale Namibië, het Postma gesê.
SO WERK DIT
Postma sê dit was Colin Bremner van Kleinskuur Aquaponics wat die beginsels van akwaponika vir hom en sy neef, Heindré van Zyl, uiteengesit het toe hulle dié soort boerdery begin ondersoek het. “Vis skei voedingstowwe af wat aan plante beskikbaar gestel word en wat op die beurt weer die water suiwer.
“Jy produseer dus gewasse sonder enige chemiese kunsmis of pesdoders. As jy chemiese pesdoders gebruik, sal jou visse vrek. Daar is dus natuurlike maatreëls in plek in ’n akwaponiese stelsel om seker te maak jy lewer voedsel van ’n goeie gehalte wat veilig vir menslike gebruik is.”
Behalwe vir die slaaiblaarprodukte wat Oribi Aquaponics kweek, sê Postma hulle beoog om kool te produseer en hul kruiereeks uit te brei.
Oribi is besig om geld in te samel vir die res van die akwaponiese produksiestelsel, waar reënwater ook op die kweekhuis se dak opgevang sal word en ’n fasiliteit vir die kweek van saailinge asook ’n visbroeiplek aangebring sal word.
Die stesel huisves Mosambiekse tilapia (rooi 6), wat geteel is deur die Rivendell-visboerdery in die Oos-Kaap. Hulle wil ook met dié visse by hul beoogde visplaas teel.
“Namibië is uiters streng as dit kom by die visspesies wat jy kan gebruik. Mosambiekse tilapia is ’n inheemse spesie. In die toekoms wil ons forel byvoeg om vis te kan verkoop binne formele en semi-formele markte,” het Postma bygevoeg.
Die water se temperatuur word altyd tussen 19 °C en 22 °C gehou, wat ideaal is vir forel. Die tilapia oorleef die beste in hoër temperature, maar die rooi 6-soort is beter bestand teen koue as ander tilapiasoorte in Afrika.
WATER
Postma beskou die koeler watertemperatuur asook hul misstelsel as noodsaaklik om die plante deur die warm Namibiese dae te help. Die water word afgekoel deur dit twee meter lank binne vertikale torings te laat val. Pompe kan ook moontlik ingespan word om die water in die winter te verhit, sou dit nodig raak.
Terselfdertyd besit ’n sonkragaanleg aandele in die Oribi Aquaponics Namibia Trust, wat beteken sonpanele kan op die fasiltiteit se dak aangebring word om elektrisiteit vir die aanleg op te wek.
*Verkorte weergawe van artikel deur Ryno Postma op freshplaza.com.
- [email protected]