Nuwe oplossings vir bosindringing

Brei oor nuwe produkte uit
Die tegniese bestuurder van Terravusahet gesê die maatskappy fokus spesifiek op bosbeheerprodukte en om inheemse plantegroei te beskerm.
Ellanie Smit
Stephan Jooste, die tegniese bestuurder van Terravusa, ’n maatskappy wat toegewy is aan die verskaffing van volhoubare oplossings vir weiveldbestuur, het ’n praatjie gelewer oor nuwe oplossings om bosindringing beter te beheer.
Hy het onlangs tydens Wildlife Ranching Namibia se inligtingsdag meer oor die nuwe produkte uitgebrei.
Jooste het gesê die maatskappy fokus spesifiek op bosbeheerprodukte en om inheemse plantegroei te beskerm.
“Ons doelwitte is om drakrag te verbeter, jou boerdery optimaal te laat funksioneer en ons gebruik slegs oorspronklike formulerings, geen generiese produkte nie.”
Die maatskappy se produkte is spesifiek ontwerp om indringerplantspesies te teiken wat nie skadelik vir weidingsgebiede is.
Die twee hoofprodukte wat Terravusa bied, is Mezavue 250 EW en Sendero 336 SL, beide sistemiese vloeibare formulerings wat deur die lug sowel as met rugsakbespuiting toegedien kan word.
Volgens Jooste streef die maatskappy daarna om hul produkte verder te ontwikkel deur etiketuitbreidings en nuwe chemie om in die toekoms huidige produkte te kan vervang.
Jooste het eers uitgebrei oor Sendero 336L, wat volgens hom baie doeltreffend is op die meeste doringboom- en bosspesies met klein blare.
Hy het gesê dit word deur die plant se blare en stam opgeneem en nie deur die wortels nie.
Jooste het verder verduidelik dat die produk die plant se groei belemmer aangesien die wortels vrek.
Hy het beklemtoon dat lugtoediening met Sendero nie ander bome soos maroelas, kameeldoring en rooibos doodmaak nie, terwyl dit ook veilig is vir mense en diere. Nog ’n voordeel is dat dit nie grassoorte doodmaak nie.
Volgende was die Mezavue 250 EW, wat volgens Jooste ook baie doeltreffend is op die meeste doringboom- en bosspesies met klein blare.
Die produk belemmer ook groei deur wortels dood te maak, maar lugtoediening is harder op sekere gewenste bome soos kameeldoring en rooibos. Dit maak ook nie grassoorte dood nie.
Jooste het daarop gewys dat met die lugtoediening van die produkte die koste baie laer is as met rollers of ander meganiese metodes.
Hy het gesê dat groter gebiede ook per dag gedek kan word in teenstelling met spuitspanne.
“Hoewel boomkarkasse bly staan ??deur die produkte te gebruik, sal wild en vee nie so maklik die gebiede waar daar nuwe grond is, bewei of vertrap ná behandeling nie.”
Laastens het Jooste bygevoeg dat selektiewe bosbeheerprodukte meer kilogram grasbiomassa verseker vir beter weiding en vir beter vleisproduksie.
[email protected]