Outjo Wildsfees gaan wild wees

Francoise Steynberg
Groot opwinding heers oor die Outjo Wildsfees waar die immergewilde Du Preez Wildveiling op Saterdag 24 Augustus sal plaasvind.
Die groot makietie van die jaar vind vanaf 22 tot 24 Augustus by die Fanie Burger-feesterrein plaas.
Du Preez Wild is ’n huishoudelike naam wat al vir 41 jaar in die wildbedryf is.
Agri Monitor het by Jannie en Dirk du Preez van Du Preez Wild buite Otjiwarongo gaan kuier wat aangedui het dat vanjaar se wildsveiling weens die droogte kleiner sal wees met meer klem op manlike diere.
“Ons fokus meer op die kwaliteit-diere, eerder as kwantiteit,” het Dirk gesê.
“Die koopmark is stillerig, maar ons is besig. Ons het vanjaar al 3 000 bokke geskuif.”
Dirk sê gewoonlik hou hulle twee tot drie veilings per jaar, maar vanjaar is dit net die Outjo Wildsfees.
Wildspesies wat vanaf 11:00 onder die hamer sal kom, sluit onder meer kameelperd, springbok, nyala, blesbok, hartebees, lechwe, rooibok, tsessebe, bastergemsbok, eland, renoster, gemsbok, koedoe, swartwitpens, swartwildebees, blouwildebees, goue wildebees, Hartmann- en Burchelle-sebras, waterbok, volstruis en Damara Dik-Dik in.
Hoogtepunte waarna wildkopers volgens die Du Preezs kan uitsien, is ’n swartwitpens met horings van 44 duim lank en ’n bastergemsbok met horings van 29 duim lank, asook gemsbokke met 40 duim lange horings.
“Daar is ook goeie belangstelling van internasionale kopers,” het Jannie gesê.
Die katalogusveiling sal ter plaatse op die Outjo Wildsfees, asook aanlyn deur Agra Auctions aangebied word.
Vir verdere navrae kontak die afslaer Henno Badenhorst van Agra Auctions by 081 257 7020 of Dirk du Preez by 081 350 1463.

HOPE VERMAAK
Die naweek bied propvol vermaak vir oud en jonk. Gewilde kunstenaars wat sal optree is Steve Hofmeyer, Fatman, Leah, Spoegwolf, Elandré en Jan Jan Jan.
Kom proe brandewyn saam met Rocco de Villiers by Pik, Proe en Wysie Donderdag om 18:00. Kosfoendies kan hul lippe aflek vir Armand Kook Kaal by die vroue-ontbyt Saterdag om 11:00 en ’n skaapkop-ete vir die manne saam met Wicus van der Merwe Vrydag om 12:00.
kykNet se Fiësta-span en gewilde akteurs van die sepie Binnelanders gaan ook kom kuier.
Daar is hope kindervermaak met springkastele, waterglybane en minigholf. Kinders tussen een en 15 jaar oud kan hul eie fietse en veiligheidstoerusting saambring en gratis op die Pump Track ry.
Vet pret en pryse is ook op die spel. Kyk hoe vinnig jy 20 sakke voer op ’n bakkie kan laai en wen 20 sakke voer van Feedmaster en Kaap Agri. Een persoon of ’n span van twee kan inskryf.
Die spanne van Agri Monitor, Republikein en Uitspeel sien jou op die Outjo Wildsfees!
[email protected]