Perdry vir dissipline, ‘terapie’

‘n Kuier by Chahanic-arabierperdstoet
Perdrykampe vir kinders, 'n stoet en die teel van sterk arabierperde met stamina – dit is waarvoor die Chahanic Equestrian Centre bekend is.
Elvira Hattingh
Die afgelope Desembervakansie kon skoolkinders vir die derde keer ’n perdekamp op die plaas Wendelstein naby Grootfontein bywoon, terwyl daar nog een vir die Junie-skoolvakansie beplan word.
“Tydens die kamp leer ek die kinders spesifiek oor hoe om die perde te versorg, hoe om hulle te voer en hulle kry ook perdrylesse. Die kinders ry ook twee maal per dag bietjie in die veld rond. Dit gaan daaroor om dit te geniet, maar ook om iets te leer,” verduidelik Megan Wise, mede-eienaar van die Chahanic-arabierperdstoet.
Megan, wat weeksdae ook perdrylesse vir kinders aanbied, perde vir ander mense oplei en ’n stoet bedryf, vertel sy het voorheen perdrylesse in Johannesburg aangebied, waar daar ook perdrykampe tydens skoolvakansies gehou is. Sy het gemeen dit is iets wat ook in Namibië sou werk en het aanvanklik met ’n ryskool begin, wat intussen uitgebrei het.
“Hierdie kamp word die ‘Pony Camp Edition’ genoem, maar eintlik is dit ’n perde-avontuurkamp,” het Megan oor Desember se kamp gesê.
“Ons kry kinders wat vir ’n tweede en derde keer na die kampe toe kom en elke keer ook nuwe kinders wat deel hiervan wil word.”
Megan sê die kamp is vier dae lank en die kinders slaap vir drie nagte oor – in die somer in die opelug onder ’n grasdak, en in die winter in tente vir die koue.
“Dis ’n ware kamp-atmosfeer. Ons maak ’n groot vuur in die aand en braai vir hulle. Hulle swem in ’n swembad, of eerder ’n tipe plaasdam.
“Die kinders leer om perde te versorg – hulle voer die perde drie maal per dag, maak die perde en hul stalle skoon en leer hulle om die perde self op te saal.”
Megan sê sy glo dit leer kinders van dissipline. Boonop het perde ’n terapeutiese invloed op talle mense.
“Baie van die kinders het al gesê dit voel asof al hul probleme verdwyn wanneer hulle op ’n perd se rug sit.
“Al die kinders wat hierheen kom, is baie lief vir diere. Hulle leer ook om diere te respekteer. ’n Perd is ’n groot dier en hy kan jou seermaak. Die kinders leer dus hoe om met ’n perd te werk,” vertel sy.
Megan bied ook ’n safarikamp vir meer gevorderde ruiters aan, maar dit is meer vir pret waartydens daar van een plaas na die volgende gery word en gekamp word, terwyl die ruiters ook saam met hul perde gaan “swem”.
Sy sê kinders hoef nie hul eie perde te besit om die kamp by te woon nie.
“Ons het genoeg perde van ons eie, maar daar is wel kinders wat hul eie perde bring. Dit is ’n uitstekende tyd om met hul perde te ‘bond’, want hulle bestee die hele dag saam met die perde.”
As dit by die gewone perdrylesse kom, kan kinders tussen die ouderdom van ses en 18 jaar smiddae ná skool lesse kom neem. Sy lei kinders wat belangstel ook op om uithouritte te doen.
Op Wendelstein het hulle ook ’n skaap- en lêhoenderboerdery, asook wild.
“Ek vat ook toeriste uit om wild op die perde te besigtig.”

CHAHANIC SE STOET
Megan sê hul stoet is klein en sy teel vir nou eers net twee vullens per jaar.
“Ek hou dit so klein, want as daar net twee vullens per jaar is, gee dit ons die kans om self met die vullens te werk en hulle te leer. Hulle word reg geleer en sodra hulle op die baan is, verkoop ons hulle,” vertel sy.
Megan sê die stoet se bloedlyn kom van een merrie af. Die merrie het aan haar vennoot, Chanté Nell, behoort, wat 13 keer met die perd vir die Namibiese span aan uithouritte deelgeneem het.
“Al ons vullens is afstammelinge van haar. Ons het ’n hingsvul asook ’n merrievul van haar. Ons het ook ander goeie Namibiese bloedlyne vir teeldoeleindes ingebring.
“Ek dink die standaard van arabierperde wat deesdae in Namibië geteel word, is fantasties.
“Ons teel ’n heeltemal anderste soort arabier as die oorspronklike klein, fyn arabier. Talle telers fokus op groter en sterker perde en dit maak ideale sportperde. Namibiese arabierperde is groot en het baie stamina – hulle kan die uithouritte doen,” het sy gesê.
Megan sê die plaaslike mark vir arabierperde is nie so groot nie, met die meeste plaaslike telers wat hul diere na Suid-Afrika of Dubai uitvoer.
Vir meer inligting kan belangstellendes Chahanic Equestrian Centre se Facebook-blad besoek of vir Megan op 081 263 7314 kontak.
[email protected]