Potgieter oor rekordprys vir Boran-bul

Elvira Hattingh
Ná sterk mededinging vir ’n Boran-bul uit Chris Potgieter van Jakof Borane se stoet, is ’n nuwe rekord verlede week by die Nasionale Boran-veiling in Windhoek opgestel toe ’n stewige N$130 000 vir dié bul betaal is.
Eandro Lottering het bul JBS19-17 gekoop.
Potgieter, wat in die Otjiwarongo-omgewing boer, het tydens die veiling nog ’n bul aan Cobus van der Merwe van die St. Blaize-stoet naby Gobabis verkoop.
Hy sê hy is trots daarop om te kan sê ander telers het beide sy bulle gekoop, wat beteken al was sy bulle ietwat jonger as die res op die veiling, kon die geoefende oog hulle vinnig as van uitstekende gehalte identifiseer.
Dit is ’n nuwe rekordprys vir ’n Boran-bul in Namibië. Die vorige rekordprys van N$115 000 is verlede jaar vir ’n Boran-bul van Neethling Borane, wat in die Windhoek-omgewing boer, betaal.
Potgieter, wat reeds sedert 2013 met dié beesras boer, sê die bul het sterk mededinging gehad, met die Grootfontein-teler Kaspar Günzel wat ook ’n voorste bieër was.
“Die Boran is ’n aangepaste en geharde bees. Sy goeie eienskappe sluit in dat hulle tropgebonde is, wat in ’n groot mate teen diefstal en verliese help. Dit help ook vir moedereienskappe, want die kalwers word beskerm.
“Die beeste word maklik bestuur en in die droogte het hulle die beste presteer. Dit is die rede hoekom ek na Boran-beeste oorgeskakel het,” het Potgieter gesê.
“Die Boran het ’n ‘dik vel’: Dit bied goeie weerstand teen bosluise.
“My pa het altyd gesê die Boran se melk moet ’n beter bottervetgehalte hê as ander beeste s’n, want die klein kalwers begin binne ’n maand só groei dat jy hulle bykans nie meer herken nie.”
Potgieter sê Boran-beeste vaar ook uitstekend in kruisteelprogramme.
“Die Boran se gene is baie anders as ander rasse s’n en om dié rede vaar die ras baie goed in kruisteling – veral met ander rasse soos Nguni en Jersey. Die basterkrag is ongelooflik.
Oor die toekoms van die ras sê Potgieter: “Die ou wat ’n bul koop, gaan wéér ’n bul kom koop. Ek dink dit gaan net van krag tot krag gaan.”
[email protected]