Projek in Angola tot voordeel van streek
Ses jaar lange program onderweg
Tans implementeer Angola en Lesotho gesamentlik die sogenaamde 43 R&D-subprojek, waarvan die resultate ook tot voordeel van die res van die SADC-streek sal strek.
Die sentrum vir die koördinering van landbounavorsing en -ontwikkeling vir Suider-Afrika (CCARDESA) was onlangs in Angola waar dit tegniese opleiding vir die implementering van die landbouproduktiwiteitsprogram vir Suider-Afrika (APPSA) gebied het. Die geleentheid het vanaf 29 April tot 6 Mei plaasgevind en besoekers kon proewe besigtig waar daar onder meer gefokus word om droogtebestande mielies te ontwikkel wat ook bestand teen byvoorbeeld kommandowurms is. Wat mahangu betref, word daar gepoog om ’n variant te plant wat beter in grond met ’n lae pH-vlak vaar.
APPSA is ’n ses jaar lange program wat deur die Wêreldbank gefinansier word. Dit handel oor die gesamentlike toepassing van navorsings- en ontwikkelingsprojekte, wat twee of meer lande betrek, wat binne die CCARDESA-streek val.
Tans implementeer Angola en Lesotho gesamentlik die sogenaamde 43 R&D-subprojek. Dit het te doen met kommoditeite wat van streekbelang is en die resultate sal tot voordeel van beide lande, asook die res van die SADC-streek strek.
BESOEK
Tydens die geleentheid het ’n span afgevaardigdes loodsprojekte besoek waar die eerste en tweede fase van die subprojek tans toegepas word. Wat die eerste fase betref, is die subprojek reeds in ’n gevorderde stadium en sal dit nog binne die komende seisoen uitgefaseer word.
Lande met gewasse soos cassava, mielies, sorghum, mahangu en bone is besoek op plekke soos onder meer Huila, Namibe, Huambo en Cela. Tydens die geleentheid is daar ook ’n wetenskaplike slypskool aangebied waar wetenskaplikes meer kon vertel oor wat al deur die projek behaal is. Dit sluit in terugvoering oor onder meer omgewingskwessies, ontwikkeling van infrastruktuur, aankope, finansies, kommunikasie en die bestuur van kennis.
Deelnemers het die geleentheid gehad om die vordering van die projek te besigtig en voorstelle te maak oor hoe navorsingsmodelle en protokol verbeter kan word vir meer doeltreffende resultate, veral as dit kom by die verspreiding van nuwe tegnologie.
– [email protected]