Rekords spat op Stampriet-veiling

Dorperram opgeveil vir N$250 000
Die veilingsagent beskryf die ooi- en ramveilings by die afgelope Stampriet skou as "mal" geleenthede wat groot belangstelling gelok het.
Elvira Hattingh
Tydens die Stampriet-skouveiling op onderskeidelik 31 Augustus en 1 September het ’n dorperram – wat vir N$250 000 opgeveil is – vir ’n nuwe Namibiese rekord gesorg.
Phillip Strauss is die teler en Jan du Toit die koper.
“Dit was ’n mal veiling – beide wat die ooi- en ramveiling betref,” het Namibia Livestock Auctioneers (NLA) se Gert van Wyk aan AgriMonitor gesê. Hy sê daar was groot belangstelling in die veilings, wat as een van die grootste kleinveeveilings in Suider-Afrika beskou word.
MJ Garbers het die hoogste prys van N$140 000 vir ’n boerbokram betaal en die teler is Dirk Louw.
Die duurste Meatmaster-ram is vir N$100 000 verkoop en die hoogste prys van N$90 00 is vir ’n Van Rooy-ram betaal.
Die teler Pieter van Schalkwyk het vir die hoogste prys van N$70 000 vir ’n witdorperram op die veiling gesorg.
Louw het ook ’n Kalahari Red-ram vir ’n stewige N$80 000 verkoop. Die koper was Stephan Botes.
Elite boerbokramme is vir ’n gemiddelde prys van N$85 250 opgeveil en stoetramme vir N$22 666. Die gemiddelde prys vir elite Van Rooy-ramme was N$45 000 en vir elite dorperramme N$47 037.

OOIVEILING
Wat die ooiveiling betref, is twee boerbbokooie, wat aan Louw behoort, elk vir N$70 000 verkoop. Dit was die hoogste prys vir die ooiveiling en Rotsdrill Exploration en Copper Green was die kopers.
Louw het ook ’n Kalahari Red-ooi vir N$55 000 verkoop. Die gemiddelde prys vir elite Kalahari Red-ooie was N$28 333, terwyl stoetdiere ’n gemiddelde prys van N$41 000 behaal het.
Pieter du Toit het die duurste Meatmaster-ooi vir N$40 000 aangekoop en Johnny Hanekom is die teler.
Elite boerbokooie is vir ’n gemiddelde prys van N$42 857 verkoop, met stoetdiere wat ’n gemiddelde prys van N$23 650 behaal het.
Tipe 5-witdorperooie se gemiddelde prys was N$12 111, en tipe 5-dorperooie s’n N$13 153.
[email protected]