Só vergelyk Maart se groentepryse

Produsente meer betaal vir patats, botterskorsies
Die Akkerbouraad gee die gemiddelde pryse van sekere groentes en vrugte in hul jongste maandelikse verslag deur.
Elvira Hattingh
Die gemiddelde prys vir aartappels wat in sakke van een kilogram aan die publiek verkoop word, was in Maart vanjaar N$27,70 per kg - N$5,10 duurder as in Februarie.
Pryse vir aartappels het verlede maand in die algemeen gestyg, met die uitsondering vir pryse van baba-aartappels asook 10 kg-sakke met mediumgrootte aartappels. Dié pryse het met onderskeidelik N$1,21 en N$0,10 gesak.
Dit aldus die jongste maandelikse verslag deur die Namibië Akkerbouraad (NAB) oor die gemiddelde pryse van sekere groentes.
Produsente het in Maart beter pryse vir botterskorsies ontvang, terwyl die kleinhandelprys vir botterskorsie-verpakkings van een kilogram met meer as N$1 gedaal het.
Die NAB merk egter op dat produsente se pryse kostes soos vervoer, heffings en belasting op toegevoegde waarde (BTW) uitsluit. Daarteenoor sluit die gemiddelde kleinhandelaar se prys hierdie koste in.
Uie-produsente se inkomste het in Maart in die algemeen gedaal of onveranderd gebly, terwyl die kleinhandelprys vir uie ook meestal afwaarts geneig het. Die prys by die sogenaamde plaashek vir uie in kilogramsakke het in Maart op N$7,80 gestaan, terwyl die kleinhandelprys in Windhoek N$24,70 was.
In Februarie was die plaashekprys egter N$8,10, met die kleinhandelprys op N$22,90.
Die plaashekprys vir patats het ‘n stewige toename gesien - van N$13,80 in Februarie vir ‘n kilogramverpakking, tot N$18,40 per kg in Maart. Los patats se produsenteprys het ook toegeneem van N$14,00 na N$16,00 per kg.
Dienooreenkomstig het die kleinhandelprys vir kilogrampakke oor dieselfde tydperk gestyg, dog in ‘n mindere mate, vanaf N$28,50 tot N$28,80.
Produsentepryse vir beet het ook ‘n toename getoon, terwyl die plaashekprys vir groen soetrissies gedaal het van N$18,08 per kg in Februarie tot N$15,41 per kg in Maart. Die plaashekprys vir wortels het ook algeheel verbeter, terwyl kleinhandelaars ook hul pryse in die algemeen opwaarts aangepas het.
Engelse komkommer se prys by die plaashek – per item - het tussen Februarie en Maart van N$7,50 na N$10,00 gestyg, terwyl kleinhandelaars se pryse van N$14,98 na N$16,80 geklim het. Waatlemoene se prys het gestyg van sowat N$62,05 per vrug - wat in Februarie die kleinhandelprys was - tot N$63,25 in Maart, terwyl spanspek se prys geval het van N$21,22 tot N$17,48.
Kool se pryse het deur die bank in Maart gedaal, met die plaashekprys wat van N$13,80 per koolkop in Februarie tot N$13,30 in Maart gesak het, terwyl die kleinhandelprys ook afwaarts geneig het van N$25,41 na N$24,55.