September is vuurwapen-amnestiemaand

AU: Verminder onwettige wapens
Vorige amnestieveldtogte het verskillende vlakke van sukses getoon.
Francoise Steynberg
September staan as vuurwapen-amnestiemaand bekend.
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit moedig individue aan om onwettige en ongewenste vuurwapens, ammunisie en wapentuig gedurende September in te handig sonder die risiko van vervolging.
Die minister, dr. Albert Kawana, het die veldtog onder die tema “Saam vir ’n vreedsame toekoms: Handig vandag jou wapens in”, bekend gestel.
Dit het ten doel om openbare veiligheid te verbeter en gewapende geweld in Namibië te verminder. Kawana meen dat die amnestie, ingevolge die Wapen- en Ammunisiewet van 1996, individue toelaat om vuurwapens en ammunisie by plaaslike polisiekantore in te handig sonder die vrees van vervolging. Die amnestie eindig op 30 September 2024, waarna individue wat in besit van onwettige wapens gevind word, vervolg sal word.
Vorige amnestieveldtogte het verskillende vlakke van sukses getoon. In 2021 is 116 vuurwapens en meer as 3 500 rondtes ammunisie ingehandig. In 2022 was daar ’n skerp toename met 1 293 vuurwapens en 2 619 rondtes ammunisie wat ingehandig is. In 2023 het die getalle egter weer afgeneem, met 159 vuurwapens en 2 591 rondtes ammunisie wat ingehandig is.
Die items is daarna vernietig op Internasionale Handwapenvernietigingsdag, wat jaarliks op 9 Julie gehou word, en beklemtoon die regering se verbintenis tot ontwapening en openbare veiligheid.
Namibië se amnestieveldtogte is deel van die Afrika-unie se projel, Silencing the Guns, wat daarop gemik is om die verspreiding van onwettige wapens oor die vasteland te verminder.
Vorige inisiatiewe het aansienlik bygedra tot die vermindering van ongeregistreerde vuurwapens en die verbetering van nasionale veiligheid.
Die Namibiese polisie (Nampol) sal die veldtog bestuur en meen deur onwettige wapens uit vrye wil te oorhandig, kan individue ’n belangrike rol in die bevordering van vrede en die waarborg van ’n veiliger toekoms vir alle gemeenskappe speel.