Skaapsektor presteer opnuut

Bees- en bokmarkte stagneer
Beesuitvoere op die hoef, het in Oktober gedaal, terwyl die uitvoere van skaap asook plaaslike verslagting drasties verbeter het.
Elvira Hattingh
Uitvoerabattoirs vir skape se verslagting was gedurende November 349,52% meer as dieselfde tyd ’n jaar gelede, terwyl uitvoere van skape op die hoef ook sowat 147,78% meer is as ’n jaar vantevore.
Dit volgens die Vleisraad van Namibië se jongste Market Watch vir Oktober, wat Donderdag 23 November uitgereik is.
Volgens die verslag was die skaapsektor die uitblinker die afgelope maand, terwyl die varksektor ook ’n toename in verslagtingsyfers gesien het.
Daarteenoor het bees- en bokmarkte redelik stagneer.
Die uitvoere van skape op die hoef het op ’n maand-tot-maand-basis met 5,25% gestyg. Terselfdertyd het uitvoerabattoirs binne ’n maand ’n toename van 64,28% in slagskape gesien – iets wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan meer verslagting by Farmer’s Meat Market op Mariental.
Dit kom ten spyte daarvan dat die Namibiese A2-slagprys ietwat gedaal het – met 2,41% van N$76,67/kg in September tot N$74,82/kg in Oktober Dié prys is tans sowat 6,16% laer as ’n jaar vantevore. Daarbenewens het die Namibiese C2-slagprys met 1,86% op ’n maand-tot-maand-basis gedaal en met 13,17% teenoor ’n jaar gelede.
As dit by uitvoere kom, is alle skape na Suid-Afrika geneem. Sowat 83% daarvan het aan Suid-Afrikaanse slagplase gegaan, 15% aan voerkrale en sowat 1% is vir teeldoeleindes uitgevoer.

BEESTE
Die lewende uitvoere van bees het die afgelope maand ’n afname van 27,8% beleef, van 13 899 beeste wat in September uitgevoer is na 10 035 in Oktober. Dit is ook 36% minder uitvoere as ’n jaar gelede en 41,9% laer as die vyfjaargemiddeld.
Die Vleisraad sê verder het slagpryse vir AB- en B-grade afgeneem, terwyl pryse vir A- en C-grade effens toegeneem het. Oor die algemeen het die beessektor nie beduidend in Oktober presteer nie.
Speenkalfpryse is deurlopend wisselvallig, met ’n merkbare daling in hul pryse vanaf vroeg in 2022 tot middel 2023. In Oktober was speenkalfpryse 35,27% laer as ’n jaar vantevore.
Die Vleisraad sê as gevolg van droër weerstoestande, is baie meer speenkalwers vanjaar bemark. In 2023, van die begin van die jaar tot nou toe, het die aantal diere wat opgeveil is met 15,44% gestyg in vergelyking met die vorige jaar.
Die Vleisraad waarsku egter dat beespryse seisoenaal is en na verwagting teen die einde van die jaar opnuut sal verbeter.
“November se speenkalfpryse sal na verwagting ietwat verbeter soos minder speenkalwers op veilings aangebied word. Volgens historiese tendense behoort die pryse aan te hou styg tot aan die begin van 2024.

VARKE, BOKKE
Die lewende uitvoere van bokke het redelike stagnante syfers getoon, met ’n geringe afname van sowat 0,25%.
Die 13 920 bokke wat egter in Oktober uitgevoer is, is 19,52% laer as ’n jaar gelede in dieselfde maand.
Al die bokke is na Suid-Afrika uitgevoer, met 80% hiervan wat na voerkrale gegaan het en meer as 19% wat vir teeldoeleindes uitgevoer is.
Veilingpryse was laer as ’n jaar gelede, met veral die pryse van boklammers wat met 30,87% gedaal het teenoor ’n jaar vantevore.
Die verslagting van varke het, op ’n maand-tot-maand-basis, in Oktober met 11,49% toegeneem by B- en C-klas-abattoirs. Die plaaslike plafonprys vir vark het op N$51,03/kg bly staan, terwyl die Suid-Afrikaanse prys tans N$37,90 is.
[email protected]