Slaglamdag ’n landbou-hoogtepunt

Losgoedveiling ook nou deel
Elvira Hattingh
Terwyl dit ’n leersame dag vir landbouers sal wees, sal al die lammers wat vir die dag geskenk word ná die tyd aan ouetehuise landswyd uitgedeel word.
Die Abenab Securitas Slaglam-boeredag vind vanjaar weer op 28 Oktober op die plaas Bergen plaas – in die Abenab-omgewing net buite Tsumeb – met ’n losgoedveiling, ’n 4x4-demonstrasie en verskeie ander aktiwiteite wat op die dag aangebied sal word.
“Die geleentheid word vanaf 2016 deur die Abenab Boerevereniging gehou en ons het tot dusver net elke jaar gegroei. Die doel van die dag is dat die lammers wat boere inskryf, eindelik geskenk word aan outehuise oraloor die land,” het Thelma Robbertse gesê.
“Voorheen kon ons net vleis aan ouetehuise in Tsumeb skenk, maar intussen het ons al so uitgebrei dat ons verlede jaar van die lamsvleis aan agt ouetehuise landswyd kon voorsien. Toe is altesaam 18 lammers aan ons geskenk,” het sy verduidelik.
Robbertse sê die Aranos-boer Pieter Kotze het die slaglamkompetisie die afgelope twee jaar gewen.
Vanjaar se losgoedveiling word ook ten bate van die Hervormde Kerk op Tsumeb gehou.
Sy sê tot dusver is bykans 40 stalletjies vir die dag bespreek. Lourens Janse van Rensburg van Elim sal gesels oor planttoerusting en ’n ekonoom van Bank Windhoek sal ook ’n praatjie aanbied.
Dit terwyl Frans Theron van die Namibia 4x4 Offroad Academy ’n demonstrasie gaan hou waar hy mense gaan wys hoe om hulle 4x4-voertuie reg te gebruik.
“Vir die vroueprogram het ons vir Sanet Prinsloo genooi wat ’n kosdemonstrasie met vyf disse gaan aanbied,” het Robbertse gesê.
Sy voeg by dat daar ook ’n jenewerproe (gin tasting) sal wees, terwyl boetiekbier (craft beer) en skemerkelkies beskikbaar sal wees.
Aktiwiteite soos skyfskiet en boogskiet sal aangebied word, terwyl plaasimplemente op ’n losgoedveiling opgeveil sal word.
Die aand word afgesluit met twee orkeste – Just Jack en die kunstenaar Joggie, wat besoekers sal vermaak.
Vir meer inligting, kontak Robbertse by 081 318 1480.
[email protected]