Speenkalfpryse tuimel sedert 2022

Elvira Hattingh
Die bemarking van beeste in die eerste kwartaal van 2023 het traag begin en eers in Maart vanjaar kop opgetel.
In totaal is sowat 53 157 beeste oor al die segmente van die sektor bemark, wat ’n jaar-op-jaar groei van 0,15% verteenwoordig, het die Vleisraad van Namibië in hul jongste maandelikse oorsig van die nasionale vleisbedryf aangedui.
Volgens die verslag dui die syfers daarop dat boere herstel het nadat ’n rampspoedige droogte die land sowat drie jaar gelede getref het. “Die groei in die sektor word daaraan toegeskryf dat meer beeste op die hoef na aangrensende en streekmarkte uitgevoer is, terwyl uitvoerabattoirs ook ’n verhoogde deurset in die eerste kwartaal ervaar het.

MARKAANDEEL
Die Vleisraad sê van al die beeste wat in die eerste vier maande van die jaar bemark is, is 57,6% lewend uitgevoer terwyl 30,2% aan uitvoerabattoirs bemark is.
Daarteenoor het B- en C-klas abattoirs sowat 12,1% markaandeel oor die tydperk gehad.
Die Vleisraad sê laasgenoemde abattoirs het ’n 4,6%-markaandeel verloor teenoor uitvoerabattoirs en die uitvoermark, as syfers met die eerste kwartaal van 2022 vergelyk word.
Daarteenoor het die uitvoermark en uitvoerabattoirs ’n groter markaandeel van onderskeidelik 3,1% en 1,4% bygekry.
In die eerste vier maande van die jaar is altesaam 30 635 beeste op die hoef uitgevoer, terwyl 28 972 beeste die land op dieselfde manier in die eerste vier maande van 2022 verlaat het. Altesaam 30 436 (of 99,5%) was speenkalwers wat na Suid-Afrikaanse voerkrale gegaan het.
Die ander 0,5% is uitgevoer vir boerderydoeleindes in ander lande. Uitvoerabattoirs het groei in hul markaandeel gesien danksy beter pryse wat vir produsente aangebied is, volgens die Vleisraad.
PRYSE
’n Volgehoue verlaging in Suid-Afrikaanse asook plaaslike speenkalfpryse het in die eerste kwartaal van die jaar voorgekom.
Die hoofoorsaak hiervan is dat die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, wat daartoe gelei het dat dié land se speenkalfprys van N$40,47/kg in die eerste kwartaal van 2022 gekrimp het na N$35,50 per kg in die eerste kwartaal van 2023.
Die Namibiese speenkalfprys het ’n soortgelyke tendens gevolg en van N$41,59 gedaal na sowat N$30,02 oor dieselfde tydperk.
“Terwyl ’n beter produsenteprys vir B2-graad slagdiere by uitvoerabattoirs aangebied is, het die gemiddelde prys vir alle karkasse met 0,7% gedaal. Dit het op sowat N$59,93 in die eerste kwartaal van die jaar gestaan, vergeleke met N$60,34 oor dieselfde tydperk in 2022.
[email protected]