Spertyd vir dieregesondheidsverklaring is 31 Julie (Agri Monitor)

Francoise Steynberg
Die dieregesondheidsverklaring (AHD) is 'n amptelike verklaring wat elke ses maande deur alle
veeboere voltooi moet word.
Die tydperke waarvoor verklarings voltooi word, is van Januarie tot Junie en Julie tot Desember elke jaar. Dit is verpligtend dat veeprodusente hierdie verklarings binne 30 dae ná die einde van elke verslagperiode indien.
Vir die huidige verslagperiode - Januarie tot Junie - moet alle verklarings teen 31 Julie 2024 ingedien word.
Data wat ingesamel word deur die indiening van hierdie vorms word gebruik vir dieresiektebeheer, vir die identifisering van dieresiektetendense sowel as vir verpligte rapportering aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH).
Produsente wat versuim om die verklarings betyds in te dien, se veebrandmerke sal beperk word tot tyd en wyl die vereiste dokumentasie ingedien is.
Die Namibië Landbou-unie (NLU) moedig produsente aan om hul verklarings aanlyn via die NamLITS-stelsel in te dien. Produsente wat harde kopieë by staatsveeartsenykantore inhandig, moet aandring op bewys van ontvangs.
Indien die vorm per e-pos ingedien word, stuur dit na [email protected] en maak seker dat ontvangs erken word. Volgens die NLU is die beste opsie egter om die vorm direk op die NamLITS-stelsel in te vul.