Stampriet-akwifer onder vergrootglas

Botswana ook bekommerd
Die omgewingskommissaris meen die ministeries sal verdere interne en eksterne oorsigte verkry en dat verdere inligting versamel moet word voor 'n besluit geneem word.
Francoise Steynberg
Twee spesialiste van die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco) het beide kommentaar gelewer op die tekortkominge van die omgewingsimpakstudie wat in die aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat vir toetsmynbou oor die voorgestelde in situ-loging uraanmyn in die Stampriet-oorgrensakwiferstelsel ingedien is.
Dit het aan die lig gekom tydens ’n hoëvlakvergadering van Unesco en die ministerie van landbou, water en grondhervorming met belanghebbendes, rolspelers en besluitnemers by Lapa Lange naby Mariental verlede week.
’n Voorafvergadering met 42 deelnemers het met Orasecom in Suid-Afrika plaasgevind. Orasecom is die oorgrens-rivierkom-organisasie van vier lande – Botswana, Lesotho, Namibië en Suid-Afrika – wat die Oranje-Senqu-rivierkommissie vorm. Orasecom is gestig om aktiwiteite te koördineer, besluite te implementeer en om die billike en volhoubare ontwikkeling van die hulpbronne van die Oranje-Senqurivier te bevorder. Orasecom bied ’n forum vir konsultasie en koördinering tussen die lande om geïntegreerde waterhulpbronbestuur en -ontwikkeling binne die kom te bevorder.
Die nuut aangestelde hoof, uitvoerende sekretaris Comfort Molosiwa, gesoute hidrogeoloog van Botswana, het die geleentheid toegespreek en kommer uitgespreek oor die in situ-logingsmynbou, aangesien dit die water wat deur Botswana gebruik word, kan beïnvloed.
Hy het ook aangedui dat die werklike grootte van die Stampriet-oorgrensakwiferstelsel verder tot in Botswana strek as wat oorspronklik gedink is, volgens ’n verklaring van die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma).
Die twee Unesco-spesialiste, Amie Legget, ’n senior omgewingswetenskaplike van Australië betrokke by Innovative Groundwater Solutions (IGS), sowel as dr. Malcolm Siegel, van New Mexico, met uitgebreide ervaring in omgewingsgeochemie, grondwaterremediëring, drinkwaterbehandeling en risikobepaling, het albei daarop gewys dat hidrogeologiese en -geochemiese besonderhede ontbreek om ’n volledige begrip van ’n projek van hierdie omvang moontlik te maak.
Hulle het aanbeveel dat verdere studies en modellering uitgevoer moet word. Beide kenners was dit eens dat moontlike mynbou nie die grondwatergehalte in die teikenakwifer moet benadeel nie – selfs meer as dit die enigste drinkwater vir ’n uitgestrekte en droë gebied is.
“Dit is duidelik dat deelnemers teenstrydige sienings het,” sê Sauma.
Die omgewingskommissaris, Timotheus Mufeti, het gesê die ministeries sal verdere interne en eksterne oorsigte verkry en dat verdere inligting versamel moet word voor ’n besluit geneem word.