Stedelike landbouopname vir die hoofstad

Unam en CoW werk saam
Windhoekers se samewerking word gevra in 'n opname oor stedelike landbou-aktiwiteite wat vandeesmaand van stapel gestuur word.
Elvira Hattingh
Windhoek se munisipaliteit se afdeling vir ekeonomiese ontwikkeling en gemeenskapsdienste sal, in samewerking met die Universiteit van Namibië (Unam) se sentrum vir navorsingsdienste, ‘n opname oor stedelike landbou binne die grense van die hoofstad doen.
Die opname word in Maart gedoen, met die fokus op tuiniers wat in hul agtererwe plant, asook op inwoners, streekraadslede, boere en ander relevante belangegroepe.
Die opname sal aan die stadsraad die nodige leiding bied oor hoe om volhoubare stedelike landbou-aktiwiteite te ondersteun en te bemagtig. Die doel is om stedelike landboubedrywighede in die hoofstad te verbeter deur die toepassing van sekere maatreëls. Dit is in lyn met die stadsraad se oorhoofse doelwit om die lewensomstandighede van die stad se inwoners te verbeter,
Dienooreenkomstig word ‘n versoek aan Windhoekers, streekraadslede asook ander relevante rolspelers gerig om die nodige ondersteuning en samewerking te bied as hierdie baie belangrike opnames uitgevoer word.
Die munisipaliteit sê dit sal verteenwoordigers uitstuur wat geïdentifiseer sal kan word aan hul blou t-hemde en hoede met kentekens op van die munisipaliteit asook Unam.
Indien Windhoekers nie die verteenwoordigers aan hul kleredrag kan uitken nie, kan hulle dr. Kletus Likuwa by 081 838 9293, of me. Ndilimeke Shityeni by 081 269 0143 kontak.