Trotse kampioene op Grootfontein Skou

Elvira Hattingh
Hardus en Ansie Breedt se Dexter-stoet, Biekie Bees, het vanjaar Grootfontein Skou se Kampioen van Kampioene opgelewer.
Biekie Bees Toks was ook die dubbeldoelkampioen op die skou, asook die senior en raskampioen onder die Dexters.
Neels en Aneldi Coetzee se Van Rooy-ram, Yster, is as die interraskampioen gekroon. Dié ram was ook die senior en raskampioenram onder die Van Rooy-skape. Die Coetzees boer op die plaas Anne’s Hope in die Grootfontein-omgewing.
Die interraskampioen onder die ooie behoort aan Joseph Lewis – ook ’n Van Rooy-skaap. Sy was ook die raskampioen-ooi en senior kampioen in haar ras.
Grootfontein se skou was vanjaar die tuiste van die Namibiese saalperd-kampioenskap, terwyl die kleinvee-skou vir die eerste keer in jare sterk teruggekeer het met 14 boere wat 160 diere ingeskryf het. Ses beesrasse het geskou, terwyl die hondeskou Woensdag vir ’n hoogtepunt gesorg het.
Grootfontein se skou volg op die Stampriet Skou en sal opgevolg word deur die Gobabis Landbouskou, wat vanjaar sy 60ste bestaansjaar vier en van 20 tot 23 September plaasvind. Daarna vind die Windhoek Skou plaas, met die landbou-afdeling wat van 25 tot 30 September sal skou.
[email protected]