Uithalervee pronk op Windhoek Skou (Agri Monitor)

Simbra-bul is kampioen van kampioene
'n Kenner meen Namibiese rooivleisprysprodusente was die afgelope 12 tot 15 jaar meer toeskouers as wat hulle deelnemers was.
Francoise Steynberg
Die vleismark is ‘n winsgewende mark met die wêreldmarkte wat besig is om te verskuif van kwantiteit na kwaliteit.
Dit is die mening van Sarel du Toit, voorsitter van die DAS-groep wat Reho Meat Processors (RMP) en Desert Wagyu insluit. Hy was die hoofspreker by die Windhoek Landbouskou.
Hy het Namibiese boere geluk gewens met die kwaliteit van hul diere: "Ons hoef nêrens in die wêreld terug te staan vir ons genetika nie. Ons kan ons koppe baie omhoog hou oor die skitterende genetika."
Du Toit het ook die uitdagings uitgelig en gesê die vleisprodusent het geen insae, insette en geen prestasie binne die waardetoevoegingsproses nie.
"Die boer se proses stop waar hy sy bees afgelaai het by veilings. As hy sy bees by Meatco afgelaai het en sy lorrie ry daar weg, is dit die laaste wat hy daarvan sien en hoor.
"Ekself is ‘n slagoffer vir 36 jaar. Jy gaan sit by ‘n veiling en jy moet tevrede wees met die prys wat jy kry. As die prys die dag N$3 dollar per kilogram af is, moet jy dit aanvaar."
Hy sê derhalwe is dit waarom Savanna Beef Processors tot stand gekom het en waarom hulle besig is om die vleiswerverwekingsaanleg suid van Okahandja te bou.
"Daar is geen prestasiegeoriënteerde vergoeding vir goeie kwaliteit-diere nie. Dit is wat ons gelei het om aan die einde van die dag prysdifferensie te kry sodat die boer vir kwaliteit betaal word.
"Wat gaan ons doen om prysdifferensiasie toe te pas sodat die boer ‘n slag deursigtigheid in die proses het? "Hoekom het ons die inisiatief geneem om die groot belegging in die vleisbedryf te maak? " vra Du Toit.
"Onsekerheid is die enigste omgewing wat ‘n volhoubare oplossing bied. In die onsekere omgewing het ons ‘n geleentheid gesien dat ons iewers ‘n toekoms vir die vleisbedryf moet skep."
Du Toit sê Namibië voer 2 000 speenkalwers op die hoef na Suid-Afrika uit en dit is die rede waarom RMP die industrie betree.
"Ons primêre doelwit is om kwaliteit voorop te stel en vir kwaliteit ‘n premie te betaal. Die vleismark is ‘n winsgewende mark met jaarlikse groei van 14%."
Hy sê om in die ry te staan vir ’n Europese of Noorweegse vleiskwota, pla hom nie vreeslik op die oomblik nie.
NISPRODUKTE
"Die wêreldmarkte is vir nisprodukte en vir goeie kwaliteit-produkte, groter as waarvan Namibië ooit kan droom om te produseer."
Du Toit sê daar is goeie nuus vir die plaaslike vleisbedryf met geweldige belangstelling van voerkrale en groot slagpale vanaf Suid-Afrika as gevolg van bek-en-klouseer in die buurland.
"Daardie prosesse is reeds ver gevorderd. Ons sien reeds dat voerkrale in Namibië heelwat in die dubbelsyfers is. Ek voorsien dat markdifferensiasie volgende jaar die grootste gaan wees. "
Hy doen 'n beroep op boere om nie net meer toeskouers te wees nie, want volgens Du Toit was Namibiese rooivleisprysprodusente die afgelope 12 tot 15 jaar meer toeskouers as wat hulle deelnemers was.
"Kom ons doen dit strategies reg en met die nodige omsigtigheid wat dit verg en nie met venyn nie. Namibië se vleisbedryf het ‘n toekoms in hierdie land," het Du Toit afgesluit.