'Uraanmynbou in Stamprietkom net ’n handtekening ver'

Sauma hou algemene jaarvergadering
Lede van Sauma het van heinde en verre na Leonardville gereis om die besprekings by te woon, vrae te vra, voorstelle te maak en bekommernisse te uiter.
Francoise Steynberg
Die goedkeuring vir mynbedrywighede in die Stampriet-akwifer is steeds net ’n handtekening ver van die besoedeling van die enigste bron van vars drinkwater in die droë, maar prentjiemooi rooi Kalahari-duine.
Dit was die boodskap van Divan Opperman, die voorsitter van die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma), tydens hul onlangse algemene jaarvergadering.
Lede van Sauma het van heinde en verre na Leonardville gereis om die besprekings by te woon, vrae te vra, voorstelle te maak en bekommernisse te opper.
“Die mynmaatskappy hou aan om rooskleurige prentjies op te tower van veilige mynbedrywighede wat die omgewing in ag neem, terwyl werkloosheid verminder. Dit is natuurlik in skrille kontras met die risiko van besoedeling van ons drinkwater, gepaardgaande met die verlies aan duisende werksgeleenthede in die toerisme- en landbousektor, asook die breë ekonomie,” het Opperman gesê.
“Die waterbron is al wat ons het en as ’n gemeenskap kan ons nie bekostig om daarmee te dobbel nie,” het hy beklemtoon.
Volgens die Sauma-grondwet word die vereniging genoop om een keer per jaar ’n algemene jaarvergadering met sy lede te belê en ná 2023, was hierdie die tweede ene.
Opperman het ’n bondige oorsig gegee van die gebeure wat tot die stigting van Sauma gelei het, verwikkelinge oor die afgelope jaar uitgelig en die aktiwiteite wat deur die bestuurskomitee gedurende hierdie tydperk onderneem is, geskets.
Hy het die belangrikheid van die huidige pogings deur die bestuurskomitee beklemtoon en die aksies wat lede en die gemeenskap moet neem om die nakoming van die land se wette te verseker, insluitend dié wat met regeringspraktyke verband hou.
Die voorsitter het verder aandag gegee aan die noodsaaklikheid van die verkryging van feitelike, objektiewe en wetenskaplik gebaseerde bewyse wat akkurate inligting kan verskaf – beide internasionaal en plaaslik, en veral vir die regering.
“Hierdie bewyse help om die perspektiewe te balanseer wat deur verskeie belanghebbendes aangebied word,” het Opperman gesê.
Hy het ’n beroep op ’n herevaluering van Sauma se strategieë en prioriteite gedoen. Die voorsitter het deelnemers daaraan herinner dat deur bevestigde feite van geakkrediteerde internasionale instellings die geldigheid van Sauma se pogings bevestig word.
Volgens Sauma beslaan die agt eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’s) van Headspring Investments byna 700 000 hektaar in oppervlakte. Dit dek meer as 180 kommersiële plase en ’n groot aantal klein kommunale plaashoewes.
“Headspring is ook betrokke by tien meer onlangse EPL’s onder die naam Green Mining wat nog 690 000 hektaar dek. Altesaam 39 EPL’s is tans in die kom geregistreer.”
Saam beslaan dit ’n totaal van 3,25 miljoen hektaar of 51,36% van die oppervlakte van die Namibiese sektor van die Stampriet-kom, volgens Sauma.
Opperman het benadruk sou die in situ-loging uraanmynprojek die groen lig gegee word, sal dit dan dalk té laat wees.
Hy het ook na die belangrikheid van eenheid in stem verwys.
“Saam staan ons sterk, want water is lewe!”
Moenie vanaand die onderhoud met Tanja Dahl in die Agri Monitor-ateljee misloop nie. Dit word om 20:30 op NTV op kanaal 285 van DStv en kanaal 25 op GOtv uitgesaai. Dit kan ook op www.oneuptwo.com/ntv gevolg word.
[email protected]