Van kombuisafval tot tuin-wonderkos (Agri Monitor)

’n Groen revolusie in tuinbou
Rooi erdwurms breek organiese materiaal af deur dit te vreet en dit in 'n ryk, voedsame kompos te omskep.
Elvira Hattingh
Belangstelling in vermikompos is wêreldwyd besig om teen ’n vinnige pas te groei in mense se soeke na meer volhoubare en omgewingsvriendelike landboupraktyke.
Vermikompos is ’n goeie opsie – ’n ryk, organies-gebaseerde soort bemesting wat deur erdwurms geproduseer word en uit afvalmateriaal soos bees-, perde- of skaapmis, plantmateriaal en selfs kombuisafval geskep word.
Rooi erdwurms, plaaslik bekend as rooi wibbelwurms (red wigglers) of tierwurms (tiger worms) word hiervoor ingespan. Die wurms breek organiese materiaal af deur dit te vreet en dit in ’n ryk, voedsame kompos te omskep.
VOORDELE
Vermikompos is ’n uitstekende bron van organiese bemesting vir plante. Dit is ryk aan voedingstowwe soos stikstof, fosfor, kalium en verskeie mikro-elemente. Hierdie voedingstowwe bevorder plantgesondheid en verbeter die grondstruktuur.
Die organiese materiaal in vermikompos verbeter ook die vrugbaarheid van grond deur die tekstuur daarvan te verbeter. Dit help grond om water beter te laat deurvloei en te versprei, verminder erosie en help die grond terselfdertyd om water beter te behou.
Vermikompos kan ook help teen vermorsing. Terwyl organiese afval uit kombuise en restaurante gebruik kan word om die erdwurms te voer, kan dit ook op groter skaal gedoen word deur tuinafval, veldgras en mis uit bees- of skaapkrale en selfs papier te benut.
In teenstelling met sommige ander bemestingprodukte wat chemiese stowwe kan bevat, is vermikompos ’n natuurlike produk wat bydra tot die bewaring van die omgewing en gesonder produksie.
Die teenwoordigheid van erdwurms in die tuin bevorder gesonde mikrobiologiese lewe in die grond. Hierdie wurms lok ook ander organismes, wat ’n positiewe invloed op die tuin se biodiversiteit kan hê.
Daarbenewens verhoog dit die produktiwiteit van plante op ’n soortgelyke manier was wat chemiese kunsmis sou, maar sonder die gepaardgaande nadele.
BEGIN
Alhoewel erdwurms tans nie volop is nie, is dit tog by sekere verskaffers beskikbaar. Sou jy hiervan in die hande kon kry, is dit maklik om jou eie vermikompos te maak.
Vir ’n groentetuin in jou erf het jy niks meer as ’n geskikte komposbak, wurms en ’n mengsel van organiese materiaal nodig nie. Groenteafval, koffiekorrels, blare, mis en karton is uitstekend vir die beginfase.
Erdwurms hou ook van nat toestande en wil in ’n omgewing woon wat minstens 80% vog bevat. Hou die wurms en hul kos klam, maar nie sopnat nie.
Bronne: Universiteit van Hawaii, urbanwormcompany.com en National Institutes of Health.
[email protected]