Veediewe slag glo vier koeie

Outjo vra hulp om ‘gevaarlike stroper’ te vang
Boere uit die Outjo-omgewing het 'n beroep op die plaaslike polisie gedoen om 'n vermeende stroper te ondersoek, terwyl twee beesslagters onlangs op heterdaad betrap is.
Elvira Hattingh
Op Saterdag 23 September het wetstoepassers twee verdagtes op die plaas Okakango in die Okahandja-omgewing op heterdaad betrap waar hulle glo vier koeie in ’n beeskraal geslag het.
Die verdagtes was na bewering besig om die beeste af te slag, die vleis in biltong op te sny en stuk-stuk weg te dra na ’n plek naby aan die beeskraal. Een koei was ver dragtig en haar kalf was reeds goed ontwikkel.
Die twee verdagtes – van onderskeidelik 53 en 27 jaar oud – is aangekeer en ’n saak van veediefstal is teen hulle aanhangig gemaak. Die vier koeie se waarde is sowat N$70 000.

VANG ‘GEVAARLIKE’ STROPER
Intussen het boere uit die Outjo-omgewing ’n beroep op die plaaslike polisie gedoen om ’n “bekende” stroper te ondersoek of vas te trek. Hulle het selfs foto’s van die verdagte waar hy na bewering vir twee ure lank met ’n geweer in ’n boom naby ’n watergat gesit het om wild te stroop.
Erika Zamzow en Rolf Wagner van die plaas Moselle sê dit is vermoedelik iemand wat vóór 2015 by hulle op die plaas as ’n spoorsnyer vir jagters gewerk het.
“Hy was ’n goeie spoorsnyer, maar het eindelik baie aggressief en gevaarlik geraak en was toe reeds betrokke in stropery op naburige plase,” het Zamzow gesê.
Die verdagte, wie se naam nie bekend gemaak kan word voor hy nie op ’n aanklag in die hof verskyn het nie, het glo intussen ook ’n naamsverandering ondergaan. Zamzow is van mening dat hy gevaarlik kan wees.
“Behalwe vir ons, meld ons bure ook ’n kwaai toename in stropery aan. Ons het ook vir enkele weke lank reeds ’n teenstropingseenheid op die plaas,” het sy gesê.
Beeldmateriaal wys die verdagte se gesig van naby. Hy dra netjiese klere, soos die van ’n plaaswerker, en hy het ’n groot kaliber-geweer met ’n teleskoop daarop, asook ’n panga in sy besit.
“Hy is waarskynlik gevaarlik en kan van die wapen gebruik maak. Hy het beslis die kwalifikasies om die toenemende voorvalle van stropery in ons gebied te lei of te organiseer. Slegs ervare polisiebeamptes behoort hom in hegtenis te neem,” het sy gesê.
[email protected]