Veeprodusentepryse bly daal

Uitvoer van beeste op die hoef neem toe
Gedurende April is 101 209 skape deur formele kanale bemark vergeleke met 100 696 skape wat in April verlede jaar bemark is.
Francoise Steynberg
Die vee- en vleisbedryf het gedurende April relatief goeie resultate aangeteken met alle sektore wat groei getoon het.
Dit is volgens die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad (LLPBN) se verslag vir April.
“Maand-tot-maand het beesvleisprodusente- en speenkalfprodusentepryse gedurende April 2024 vanaf Maart 2024-vlakke toegeneem, terwyl skaapkarkas-produsentepryse gedaal het,” lui die verslag.

BEESTE
Die beessektor het ’n groei in bemarkingsaktiwiteite aangeteken, ondersteun deur verhoogde deurset by uitvoer-abattoirs, sowel as plaaslike B- en C-klasabattoirs.
Die uitvoer van beeste op die hoef het ook toegeneem. Jaar-tot-jaar is altesaam 32 795 beeste gedurende April bemark – ’n toename van 31,2%.
Die groei word deels toegeskryf aan verhoogde uitvoere van speenkalwers, hoofsaaklik na Suid-Afrikaanse voerkrale namate die droogte sy wurggreep kry.
“Hierdie stroom bly ’n beduidende bemarkingsegment vir Namibiese speenkalfboere weens swak finansiële lewensvatbaarheid van grootskaalse voerkrale in Namibië wat daartoe lei dat duur veevoer van Suid-Afrika ingevoer moet word,” volgens die LLPBN.
Die speenkalf/B2-verhouding staan op 41,7% vergeleke met 41,1% wat verlede jaar gedurende ’n soortgelyke tydperk waargeneem is. Die lae verhouding onder die maatstaf van 64% verteenwoordig relatief stabiele produsentekarkaspryse wat deur abattoirs betaal word.
Op ’n jaargrondslag het lewende speenkalfpryse met N$0,09/kg verswak, gemiddeld N$24,83/kg in April 2024 teenoor N$24,92/kg wat gedurende April 2023 aangeteken is.
Die B2-beesvleisprodusente-karkasprys het in April 2024 tot N$59,48/kg gedaal vanaf die vlak van N$60,60/kg wat in April 2023 aangeteken is.
Tot op datum was die B2-karkasprys teen einde April 2024 gemiddeld N$60,52/kg.

SKAAPSEKTOR
Gedurende April is 101 209 skape deur formele kanale bemark vergeleke met 100 696 skape wat in April verlede jaar bemark is.
Verslagtings by slagplase wat vir uitvoer goedgekeur is, het met 5,1% toegeneem tot 11 331 skape gedurende April.
Die jaar-tot-datum verslagtings deur dié abattoirs het teen einde April op 32 765 skape gestaan.
Die deurset by B- en C-klasabattoirs het gedurende April met 39,4% gedaal aangesien slegs 5 368 diere bemark is teenoor die 8 861 diere in April 2023.
Intussen het die A2-karkasprys laer gebly as sy Suid-Afrikaanse eweknie en was gemiddeld N$69,41/kg, N$7,59/kg laer as die buurland se produsenteprys wat gemiddeld N$77/kg was.

BOKKE EN VARKE
In April is 8 690 bokke bemark vergeleke met 8 624 bokke gedurende April verlede jaar.
Jaar-tot-datum het LLPBN-geregistreerde bok-abattoirs gesamentlike verslagtings van 1 137 bokke aangemeld. Altesaam 8 684 bokke is op die hoef na Suid-Afrika uitgevoer hoofsaaklik na die tradisionele KwaZulu-Natalse mark.
Boklampryse het van Maart tot April met N$1,35/kg gedaal om teen einde April op N$28,39/kg te staan. Boklammers se gemiddelde pryse het tot dusver onder die N$30/kg-merk gebly.
Altesaam 4 147 varke is by LLPBN-geregistreerde vark-abattoirs geslag. Dit verteenwoordig ’n groei van 3,5% in vergelyking met 2023-vlakke. Die varkvleisplafonprys bly vasgestel op N$51,03/kg.

HANDEL IN VLEIS EN VLEISPRODUKTE
Jaar-tot-datum beesvleisuitvoere het teen einde April op 4 735 663 kg gestaan in vergelyking met 2 304 263 kg wat in April 2023 aangeteken is.
Beesvleisinvoer het onder 2023-vlakke gebly as gevolg van verbeterde plaaslike beskikbaarheid van beesafval wat tradisioneel die invoermandjie oorheers.
Op ’n jaargrondslag was die invoer van beesvleis 26,6% laer as in dieselfde tydperk in 2023, terwyl die invoer van beesvleis jaar-tot-datum ook met 21,3% gedaal het.
Skaapvleisuitvoer het gedurende April met 39,1% gedaal vergeleke met April 2023. Suid-Afrika was die enigste uitvoerbestemming vir Namibiese lam- en skaapvleis gedurende April 2024.
Ter afsluiting sê die LLPBN die bedryf staar ’n paar uitdagings in die gesig, soos dalende veeprodusentepryse.
Plaaslike speenkalfpryse het gedurende April herstel, terwyl Suid-Afrikaanse speenkalwers aan die ander kant relatief hoër pryse in dieselfde tydperk behaal het.
Skaap- en bokbemarkingsaktiwiteite het toegeneem as gevolg van verbeterings in lewende uitvoere na Suid-Afrika terwyl die totale slagting afgeneem het.
[email protected]