Veilingpryse daal met 20%

Meer beeste, bokke opgeveil
Die totale aantal stuks vee wat in die tweede kwartaal van 2023 op veilings bemark is, het met 2,3% verhoog na 79 113.
Elvira Hattingh
Terwyl die veilingprys van beeste met sowat 20% in die tweede kwartaal van 2023 gedaal het, is 6,1% meer beeste gedurende dié tydperk bemark as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Terselfdertyd het die gemiddelde veilingprys vir beeste op sowat N$25,96 te staan gekom. Dit is volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se landbouverslag vir die tweede kwartaal van 2023, wat verlede week uitgereik is.
Die veilingpryse van alle tipe lewende hawe het in die tweede kwartaal van 2023 afgeneem in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in 2022.
Kleinvee se pryse op plaaslike veilings het ook met onderskeidelik 17,4% vir bokke en 14,6% vir skape gedaal en op gemiddelde van sowat N$30,69 en N$28,07 te staan gekom.

MEER BEMARK
Die totale aantal stuks vee wat in die tweede kwartaal van 2023 op veilings bemark is, het met 2,3% verhoog na 79 113 teenoor die 77 338 stuks vee wat in die ooreenstemmende tyd in 2022 op veilings verkoop is.
Bokke en beeste se veilinggetalle het ’n groei van onderskeidelik 18,4% (altesaam 18 933 bokke) en 6,1% (50 794 beeste) getoon. Die aantal skape wat opgeveil is, het egter afgeneem van sowat 13 482 wat in die tweede kwartaal van 2022 bemark is na sowat 9 386 skape in totaal tydens die derde kwartaal van 2023.
Dit kom terwyl dele van Namibië tydens die afgelope reënseisoen ’n droogte ervaar het en noodbemarking moes doen.

JONGSTE PRYSE
Tydens die week van 22 September was verslagtingspryse vir vee stabiel, terwyl veilingpryse opnuut gedaal het – dog het dit beter daar uitgesien as tydens die tweede kwartaal.
Die gemiddelde prys vir tollies het op N$28,53 per kg gestaan en op N$26,04 per kg vir verse. Stoorosse is vir gemiddeld N$26,81 per kg verkoop en slagosse vir N$29,09 per kg. Maer tot vet koeie se pryse het gewissel van N$18,71 per kg tot N$28,64 per kg, terwyl koeie met kalwers vir ’n gemiddeld van N$10 550 per kop verkoop is.
Dorperskape het ‘n gemiddelde prys van N$27,81 per kg verdien en vetstertskape ‘n gemiddelde prys van N$28,09 per kg, terwyl bokke vir sowat N$1 131 per kop verkoop het.

EERSTE KWARTAAL
Dit kom nadat die Vleisraad van Namibië vroeër gesê het op ‘n jaar-tot-jaar-basis het bemarking in Februarie binne alle segmente van die beessektor met dubbele syfers gedaal.
Altesaam 13 670 beeste is in Februarie bemark. Dit verteenwoordig ‘n inkrimping van 24,5% op ‘n jaar-tot-jaar-basis. Hiervan is 61% – die meeste speenkalwers – op die hoef na Suid-Afrika en Botswana uitgevoer.
Die skaapsektor het ‘n sterk groei in bemarking van 43,9% in Februarie gesien – wat hoofsaaklik aan ‘n sterker nasionale kudde toegeskryf kan word, het die Vleisraad gesê.
[email protected]