Vereistes om vleis na Windhoek te bring

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Die Namibië Landbou-unie (NLU) ontvang glo die afgelope tyd klagtes van sy lede wat sukkel om permitte by Windhoek se munisipaliteit te kry om die vleis van geslagte diere na die hoofstad te vervoer.

Dit terwyl talle boere tans ’n inkomste hieruit verdien en te midde van swak veilingpryse en die ondergemiddelde reënseisoen wat hulle tot noodbemarking dwing.

Die NLU het die afgelope week in hul nuusbrief verduidelik dat vleis vir eie- of huishoudelike gebruik na Windhoek gebring kan word, maar dat ’n permit van die munisipaliteit hiervoor nodig sal wees. Dan is jy beperk tot drie skaap- of bokkarkaste of een beeskarkas.

XXXX

Die permit sal toelaat dat jy met jou vleis deur ’n padblokkade kan beweeg.

As jy egter die vleis inbring om weer te verkoop, moet die diere eerstens by ’n goedgekeurde slagplaas geslag word wat by die ministerie van gesondheid of by die munisipaliteit geregistreer is. Die vleis self moet geïnspekteer word en ’n gesondheidstempel kry, terwyl ’n gesondheidsertifikaat die vleis moet vergesel wanneer dit deur padblokkades na Windhoek beweeg. Boonop moet die vleis vervoer word in ’n geskikte voertuig wat dit teen die elemente beskerm.

Die NLU verduidelik dat die regulasie reeds sedert 1969 in plek is. “As dit nagekom word, sal daar nie ’n probleem wees om vleis in die munisipale gebied in te bring en te verhandel nie,” het die unie bygevoeg.

Volgens die algemene gesondheidsregulasie, vervat in regeringskennisgewing 21 van 1969, kan persone ook nie melk verkoop indien hulle nie by die plaaslike owerhede daarvoor geregistreer is nie, terwyl die melkery self ook aan verskeie vereistes moet voldoen.