Waardevolle boek oor erdwurm-tegnologie sien die lig

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Akkerbounavorsers verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam) het onlangs ‘n geredigeerde boek bekend gestel oor die benutting van erdwurm-tegnologie vir die volhoubare produksie van organiese voedsel.

Unam-navorsers, soos dr. Hupenyu Allan Mupambwa van die Sam Nujoma Marine and Coastal Resources Research Centre (SANUMARC) en dr. Lydia Ndinelao Horn van Multi­disciplinary Research ­Services het saam met prof. Pearson Mnkeni van die Universiteit van Arusha, Tanzanië, gewerk om die geredigeerde boek te kan publiseer.

Vermicomposting for Sustainable Food Systems in Africa is op 26 Februarie deur die uitgewer Springer Nature gepubliseer as deel van ’n boekreeks oor ­volhoubare wetenskappe in Asië en Afrika, asook ‘n subreeks oor volhoubare landbou en voedselsekerheid.

Die doel van die boekreeks is om wêreldwye pogings vir ­volhoubare produksie te ondersteun deur tydige dekking te bied oor die vordering, geleenthede en ­uitdagings in dié gebied. Die boekreeks handel oor suksesverhale in Asië en Afrika, asook navorsing wat verwant is aan die volhoubare ontwikkeling van die geen hongersnood-ontwikkelingsdoelwit.

Die boek handel oor navorsing wat hoofsaaklik in Afrika gedoen is oor vermikompostering en verwante tegnologie wat bestaansboere in Afrika kan help om organiese bemesting te maak wat ryk is aan voedingstowwe – uit diere- en plantafval en -oorblyfsels.

Vermikompostering is ‘n tegnologie waar erdwurms gebruik word om bio-afbreking en die voedingswaarde van organiese kunsmis te verbeter.

Inligting oor die ontwikkeling van ’n vloeibare kunsmis uit organiese bronne vir hidroponika word ook gegee. Die boek vereenvoudig ook navorsingsbevindings sodat boere en landbouwerkers dit makliker kan toepas.

Die boek dek ook noodsaaklike aspekte oor die standaardisering van vermikompos, die biologie van erdwurms en die verbetering van voedingstowwe in kompos en vloeibare organiese kunsmis.

Vermicomposting for Sustainable Food Systems in Africa sal ’n waardevolle bron van inligting vir boere wees, veral dié wat gewasse organies kweek.