Weerstasies in Kunene oorhandig
Vroeë waarskuwingstelsel ook beplan
Die ministerie van werke en vervoer se meteorologiese dienste sal in beheer van die geoutomatiseerde weerstasies wees.
Vier geoutomatiseerde weerstasies ter waarde van N$800 000, wat op die Irema-persele by Warmquelle, Kamanjab en Erwee in die Kunenestreek opgerig sal word, is Woensdag amptelik oorhandig.Die vierde weerstasie by Fransfontein is reeds in November verlede jaar opgerig, het die Omgewingsbeleggingsfonds (EIF) se uitvoerende hoof, Benedict Libanda, by die geleentheid gesê.
Die weerstasies is deur die EIF, in vennootskap met MTC gefinansier en vorm deel van die Irema-projek.
Irema gaan oor die opskerping van bestuurstelsels vir weiding en die ekostelsel onder bestaansboere in die Sesfontein-, Fransfontein- en Warmquelle-gebied – midde klimaatsverandering.
Daarbenewens is konsultasies ook afgehandel vir die ontwikkeling van ’n vroeë waarskuwingstelsel, met ’n geraamde waarde van sowat N$950 000, wat in die Kunenestreek opgestel sal word.
Die ministerie van werke en vervoer se meteorologiese dienste sal in beheer van die weerstasies wees, het Libanda tydens die geleentheid gesê.
“Die oorhandiging is weer ’n aanduiding van Namibië se toewyding daartoe om vroeë waarskuwingstelsels in plek te stel wat gemeenskappe vroegtydig teen klimaatsverandering kan waarsku. Dit moet aan hulle die geleentheid gee om vroegtydig voorbereidings te tref,” het hy bygevoeg.
Hy het verduidelik die stelsels bemagtig gemeenskappe om vir potensiële rampe soos droogtes en vloede voor te berei.
“Dit dien as ’n veiligheidsnet wat gemeenskappe toelaat om proaktief te beplan en sodoende word lewens asook werksgeleentheide gered, terwyl ekostelsels en noodsaaklike infrastruktuur ook behoue kan bly,” het hy gesê.
Die Irema-projek is van stapel gestuur ná aanhoudende droogtes en tydperke van droogtes die Kunenestreek getref het. Die droogtes het ’n verwoestende uitwerking op die streek se veeboerderye gehad, wat ook as mense se grootste bron van voedsel dien.
“Daarbenewens is inwoners van die streek afhanklik van die natuur om ’n bestaan te kan voer. Dit maak hulle baie kwesbaar vir klimaatsverandering. Dit het ’n impak op hul inkomste asook hul voedselsekuriteit,” het Libanda gesê.
“Die ontwikkeling van vroeë waarskuwingstelsels is dus noodsaaklik om hierdie risiko’s te verminder. Die stelsel maak gebruik van ’n geïntegreerde kommunikasiestelsel om gemeenskappe te help om voorbereidings te tref vir klimaatstoestande wat hulle kan benadeel.
“Dit bestaan uit vier sleutelkomponente: Die identifisering van gevare, die monitor daarvan asook voorspellings, die ontleding van risiko’s, waarskuwings en voorbereidings vir noodgevalle en derdens die tydige verspreiding van waarskuwings. Laastens help dit ook gemeenskappe met beplanning en om voorbereidings te tref,” het Libanda verduidelik.
Hy sê buiten dat die stelsels kan help om lewens en werksgeleenthede te red, help dit ook met beplanning, die besparing van geld oor die lang termyn en die beskerming van die ekonomie.
– [email protected]