Weiding tans beter daaraan toe as in 2021

Volg plantegroei so gedurende die reënseisoen
Tans is die plantegroei gemiddeld tot bogemiddeld, buiten vir dele in die Kunenestreek, wat ietwat ondergemiddeld is.
Elvira Hattingh
Dr. Cornelis van der Waal
Weidingspesialis

Verlede jaar dieselfde tyd was weidingstoestande oraloor die land baie droër, met uitsondering van die noordoostelike dele van Namibië, waar weiding groener in 2021 was as in Oktober vanjaar.
Tans is die plantegroei gemiddeld tot bogemiddeld, buiten vir dele in die Kunenestreek, wat ietwat ondergemiddeld is.
Die algemene goeie reën wat in groot dele tydens die 2021-’22-reënseisoen ontvang is, beteken droë gras van die vorige seisoen is steeds beskikbaar, veral waar bestokkingsyfers laag is.
In dié gebiede moet daar teen veldbrande gewaak word. Tref die nodige voorsorgmaatreëls om diere en eiendomme te beskerm, sou daar ’n brand ontstaan.
Die weidingskaarte behoort soos ’n verkeerslig gebruik te word. As ’n gebied rooi bly soos die seisoen vorder, moet “rooi ligte” ons waarsku teen ’n ondergemiddelde seisoen wat grasproduksie betref.
As ’n gebied egter meestal groen is vir die hele seisoen, behoort die “groen lig” vir ons ’n aanduiding te gee dat bogemiddelde grasproduksie die mees waarskynlikste is. Verskillende scenarios kan ook ontwikkel, byvoorbeeld wanneer ’n seisoen “in die rooi” afskop en groen eindig, of andersom.
BELANGRIKHEID
Hoekom is dit belangrik om weidingstoestande te monitor?
Lewendehaweproduksie in Namibië is bykans heeltemal afhanklik van die produktiwiteit van ons weiding, wat tydens droogtes bykans glad nie beskikbaar kan wees nie.
Wisselvallige reën veroorsaak beduidende bestuursprobleme vir veeboere wat ’n balans moet vind tussen hul vee se behoefte aan voeding en die voer wat geproduseer word, sodat hul weiding nie agteruitgaan nie.
Die inligting kan nader aan die einde van die droëseisoen aandui watter dele van die land die ergste deur droogtes geraak word, wat genoegsame tyd bied om vir droogtehulp te beplan.
Hoe werk die stelsel?
Die sleutelkomponent van hierdie vroeë waarskuwingstelsel is vrylik beskikbare tegnologie wat oor ’n afstand aktiewe plantegroei oraloor Namibië kan meet – naby aan werklike tyd. Dit help ook dat die huidige plantegroei patrone met ’n tienjaargemiddeld van dieselfde tyd en dieselfde plek vergelyk kan word. Dit bied ’n objektiewe blik van jou weidingstatus.
Kaarte, met al die besonderhede oor die weidingstatus, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot die einde van Mei) beskikbaar gestel. Dit is beskikbaar op die webwerf namibiarangelands.com.