Wet vir wild in beskermde gebiede op pad
Sal verskeie kwessies takel
Hoëvlak-afgevaardigdes het onlangs die Kunenestreek se bewaringsgebiede besoek om die daaglikse realiteite te verstaan van mense wat met wilde diere moet saamleef.
Die omvattende wetsontwerp oor die bestuur van wild en beskermde gebiede, wat die verouderde natuurbewaringsordonnansie van 1975 moet vervang, sal na verwagting nog vroeg vanjaar tot wet gestem word. Dit is goeie nuus vir die bestuur van natuurlike hulpbronne omdat dit verskeie kwessies in die bedryf sal takel.
Die direkteur van wild en parke binne die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Bennett Kahuure, het onlangs die inligting met ’n groep afgevaardigdes gedeel wat bewaringsgebiede in die Kunenestreek besoek het.
Volgens ’n mediaverklaring deur Nacso, Namibië se sambreelorganisasie vir die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuursprogram, ofte wel die CBNRM, het die parlement se staande komitee oor natuurlike hulpbronne, tesame met lede van Nacso asook die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme onlangs bewaringsgebiede in die Kunene besoek.
Die besoek het van 20 Januarie tot 4 Februarie geduur.
Die doel was om die daaglikse realiteite te verstaan van mense wat saam met wilde diere moet leef en met gepaste oplossings vorendag te kom om van hul uitdagings die hoof te bied. Verder is daar ook ondersoek ingestel om geleenthede vir gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronnebestuur te ontsluit.
Kahuure het ook aan die besoekers ’n oorsig gegee van die Kunenestreek se bewaringstatus.
Dié streek in die noordweste van die land is kenmerkend ’n woestyn-ekostreek, met diere soos die swartrenoster, woestynaangepaste olifante asook leeus, jagluiperds, luiperds, hiënas en verskeie wildsbokke.
Die Kunene, wat deur jarelange droogte geteister word, ervaar ook toenemende gevalle van mens-dier-konflik. Dit word vererger deur verliese van gewasse en lewende hawe, die beskadiging van infrastruktuur deur wild – veral olifante en leeus.
BEWARINGSGEBIEDE
Die parlementariërs het die //Huab-bewaringsgebied besoek, waar lede gesê het hulle is ontevrede met die regering se gebrek aan konsultasie as dit by die toekenning van eksklusiewe prospekteringslisensies (EPL’s) kom.
Dit het veroorsaak dat wild, veral renosters, na ander gebiede getrek het omdat die mynbedrywighede baie raas. Dit het op die beurt toerisme-bedrywighede in die gebied geraak.
Inwoners van die Torra-bewaringsgebied in die Bergsig-omgewing, het genoem dat die regering se vergoedingskema vir verliese tydens mens-dier-konflik dringend hersien moet word omdat dit ver onder markwaarde is.
In die ≠Khoadi-//Hôas-bewaringsgebied is suksesverhale van gemeenskapsgebaseerde bewaring gedeel, met meer as 2 000 geregistreerde lede wat met ’n inisiatief vorendag gekom het wat bogenoemde vergoeding deur die regering aanvul.
Hendrik Goabaeb, raadslid van die Sesfontein-bewaringsgebied, het gevra dat myngebiede – wat volgens hom nou brandpunte vir renosterstropery is – moet spesiale aandag geniet en gemonitor word. Hy het ook gesê gemeenskappe moet hulle daarvan weerhou om na gebiede te trek waar die wilde diere die meeste voorkom om sodoende mens-dier-konflik te verminder.
Maxi Pia Louis, direkteur van Nacso, het tydens die toer ook oor die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op bewaringspogings gepraat. Tog het bewaringsgebiede tesame met hul verskeie rolspelers, steeds maniere gevind om die land se natuurlike hulpbronne in dié tydperk te bewaar.
Sy het ook daarop gewys dat Namibië se klassifisering as ’n hoër middel-inkomsteland tot finansiële uitdagings in die tydperk bygedra het. Dit het dit moeilik vir burgerlike organisasies gemaak om finansiering oor die lang termyn te verkry.
Die staande komitee sal ’n verslag oor sy bevindinge saamstel en by die hoofkomitee vir goedkeuring indien en dit sal dan in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word.
– [email protected]