‘Katspoegie’ entstof vir perde beskikbaar

Uitdaging lê by Onderstepoort
Daar is hoop op die horison vir die plaaslike vervaardiging van entstowwe met 'n eg Namibiese maatskappy Dunevax Biotex wat reeds gestig is.
Francoise Steynberg
Perdetelers en -eienaars sit al vir twee jaar met hul hande in die hare weens ’n gebrek aan entstof teen die gevaarlike Afrikaperdesiekte.
Die entstoftekort geld nie net vir perde nie, maar vir alle vee. Namibiese veeboere sukkel met die beskikbaarheid van sekere entstowwe en staan boonop agter in die ry om dit van Onderstepoort in Suid-Afrika te ontvang. Die buurland het erg gebuk gegaan onder Afrikaperdesiekte.
Op ’n dorre plaas by die Swartrante naby Maltahöhe in die Hardapstreek is ’n boervrou verby moedeloos – nie net oor die versengende droogte nie – maar ook omdat sy haar agt Appaloosa-perde moet verkoop.
Sy het ’n koper in Zimbabwe vir haar perde gevind. Sy kan egter nie die perde uitvoer nie, aangesien hulle nie teen Afrikaperdesiekte ingeënt is nie.
Sy het al talle veeartse tot dieremedisyneverspreiders gekontak en niemand kan haar help nie.
“Ek moet die transaksie op my maag skryf omdat ek nie die entstof kan kry nie,” het sy emosioneel aan Agri Monitor gesê.
Sy sê die probleem en monopolie lê by Onderstepoort in Pretoria in Suid-Afrika en vra die vraag of Namibië nie self entstowwe in ’n laboratorium kan ontwikkel nie.
Verskeie perde-eienaars het beaam dit is ’n krisis om entstowwe in die hande te kry.

VEEARTS
Die bekende Windhoekse veearts, dr. Theuns Laubscher, het bevestig diegene in die perde- en veeartsenybedryf is uiters gefrustreerd omdat Onderstepoort nie genoeg entstowwe vervaardig nie.
“Ons is bekommerd dat ons diere potensieel kan vrek, veral nadat die buurland seker meer as 300 perde weens perdesieke verloor het. Wat gaan van ons perde word omdat ons hulle nou al vir twee jaar nie ingeënt het nie?” vra hy.
Laubscher sê hul praktyk gebruik sowat 1 200 dosisse elke jaar en het die laaste jaar net 420 dosisse gekry.
“Dit is nie genoeg om al die perde in te ent nie – nie eens ’n derde van die perde in die land nie. Op die oomblik kry ons niks in nie, daar het net ’n katspoegie ingekom.”
Hy voeg by daar is uitvoerperde wat dringend gespuit moet word.
Verlede jaar het Onderstepoort Biologiese Produkte erken hul vervaardigingsproses is weens onklaar toerusting vertraag en dat hulle nuwe toerusting nodig het.
Afrikaperdesiekte kom slegs in Afrika voor en die entstof kan nie van die buiteland ingevoer word nie.
“Onderstepoort het hierdie entstof ontwikkel en het die monopolie op die resep en produk. Ons wens en hoop dat hulle meer vervaardig,” Laubscher gesê.
Goi Geurtse, bedryfsbestuurder en direkteur by Swavet, het beaam die maatskappy sukkel ook al twee jaar lank om voldoende entstof te kry en die probleem raak al hoe erger.
“Ons kry nou die eerste besending in vir die jaar. Ons het 2 100 eenhede nodig per jaar. Ons kry net 100 eenhede in per slag,” het hy gesê.
“Ons weet perdesiekte is die grootste behoefte en dit is so ’n sensitiewe saak. In werklikheid ontvang ons net 100 bottels wat ons maar moet deel.
“Intussen gaan diere dood. Die perde kan nie aan skoue en kompetisies deelneem nie en hulle kan nie uitgevoer word nie,” het Geurtse beklemtoon.
“Nou sit ons met die krisis dat ons veeartse ons nie meer glo nie, want die markbehoefte is nou so groot.”
Geurtse sê in Suid-Afrika is al hofsake teen Onderstepoort gemaak met Namibië wat aan die agterspeen moet suig.

OPLOSSING
Hy meen die probleem van Onderstepoort gaan nie binnekort opgelos word nie en die oplossing is om weg te beweeg van enige invoer.
Die goeie nuus is dat Dunevax Biotech, ’n Namibiese maatskappy, verlede jaar gestig is wat sy eie entstowwe op eie bodem by ’n fabriek in die hoofstad sal vervaardig.
Volgens Geurtse sal die entstowwe volgens die Zazibona-proses na ander buurlande uitgevoer word.
Die Zazibona-proses is die samewerking tussen die nasionale regulerende owerhede vir medisyne (NMRA’s) in Zambië, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Suid-Afrika.
[email protected]