’n Droom vir Oshivelo

Die Nambahu’s wys hoe met Yala Farming
Twee mense het dit gewaag om van die norm weg te breek, en wys nou hoe die meeste van 'n klein stukkie grond by Oshivelo gemaak kan word.
Elvira Hattingh
“Die mense glo noord van die Rooilyn kan jy niks doen nie. Ek stem nie saam nie; grond is grond. Daar ís boere anderkant die Rooilyn wat ’n bydrae tot die land se voedselmandjie wil maak!”
Só gesels Joel Nambahu van Yela Farming, wat net kort duskant die veterinêre kordonheining op Oshivelo, 94 km van Tsumeb af, boer.
“Selfs al boer jy op ’n klein stukkie grond, kan jy wonders doen. Dit het ek hier gesien,” sê Joel.
Hy en sy vrou, Kanally, boer intensief op hul 3 hektaar grond met vrugtebome, groente, verskeie soorte pluimvee en skouvoëls, asook meer as 250 boerbokke, en Damara- en Meatmaster-skape.
Van die plante se afval, soos die blare van die beet asook die stronke van die mahangu, word ook weer aan hul vee gevoer. Niks word vermors nie.
Die Nambahu’s hoop om eendag meer as 5 000 vrugtebome te kan hê.
“Dit is ons droom. Ons wil ook seker maak ons kan kleinveeramme van goeie gehalte aan boere in die omgewing verskaf sodat hulle nie so ver daarvoor hoef te gaan soek nie,” sê Joel, wat hoofsaaklik stoetramme vir sy kuddes koop.
Hy is eintlik ’n naweekboer en werk in die week in Windhoek as ’n entrepreneur in die konstruksiebedryf, met sy vrou wat ook dikwels by hom aansluit van waar sy in Windhoek werksaam is.
Joel sê as hy geweet het watter beroep hy nou deeltyds sou beoefen, sou hy eerder landbou geleer het.
“Somtyds sien jy eers watter beroepe jy liefkry, soos jy grootraak,” het hy vertel.

WAAG
Hy sê enkele jare gelede het hy dit gewaag om anders te wees.
“Die ding hierso is mahangu, jy moet ’n mahangu-land hê,” het hy aan Agri Monitor vertel.
Hy sê hy en sy vrou het toe die sowat 1 ha grond wat hulle tot hul beskikking gehad het, in twee gedeel. Op sy deel het hy vrugtebome geplant.
“Sy het my gevra of ek ernstig is met bome. Ek sê toe ja en plant my eerste 120 boompies aan my kant, terwyl sy aan haar kant nog steeds mahangu geplant het,” vertel hy.
Die tweede jaar, in 2020, het sy vrou ook besluit om bome te plant. “Dit is iets wat jy nie sommer in hierdie dele van die land sien nie,” vertel hy.
“Nou het ons meer as 330 bome – vye, papajas, koejawels, mango’s, moerbeie en aarbeie. Ons kon al van ons 30 koejawelbome oes,” het hy vertel.
Joel sê hulle het aanvanklik die bome met dromme water natgelei, voor hy eindelik ’n besproeiingstelsel kon aanlê. Hy het hiervoor aansoek gedoen vir ’n toegif van die regering, wat ook aan hom toegestaan is.
“Vrugtebome neem egter tot vyf jaar voor hulle vrugte begin dra. Ons het intussen besluit om in die 5 m-spasies tussen die bome groente te plant wat nie die wortels van die bome sal benadeel nie.
“Gevolglik het ons beet, uie, sonneblom, waatlemoen, hawermout en boontjies tussen die rye geplant.”
Intussen kon hulle al verskeie kere van hul koejawel- en mango-oeste verkoop.
“Ons het die koejawels tot so ver as die kus en Khorixas gestuur.
“Toe sê ek vir my vrou, ons is bevoorreg om voedsel aan mense te kan gee. Baie mense bly in woonstelle en kan nie bome plant nie. Ons het meer as 400 kg se mango’s verkoop. Die mark ís daar,” het hy vertel.
Joel sê ook daar is ruimte vir boere om saam met die regering te werk. Hy het as voorbeeld genoem dat hy grondmonsters by die landbouministerie vir baie goedkoop getoets het en hulle hom goed gehelp het. Verder kan boere saad van regeringsentrums in die noorde teen goeie pryse koop – én dit is klaar behandel.
“Ek is ’n boer wat ondervind het dat ek groot ondersteuning van die regering ontvang het,” het hy vertel.
Hy voeg by ander boere, soos mnr. Jan Cronjé, dien as ’n inspirasie vir hom, terwyl maatskappye soos AgriGrow nie huiwer om hom te help nie, al boer hy nog nie op so ’n groot stuk grond nie.
“Hulle voel hulle leer elke boer reg, terwyl hy nog ‘klein’ is,” sê Joel.

SKOLE EN BOEREDAE
Joel boer ook met hoenders en duiwe.
“Ek doen skouhoenders en –duiwe,” vertel hy.
Hy sê veral die verskillende soorte duiwe en hoenders laat die skoolkinders, wat dikwels sy plaas kom besoek, in verwondering.
“Dit is hartseer as iemand iets leer – soos landbou op skole – maar dit nie kan beleef nie. Ek sê altyd, as jy dit kan beleef, dan onthou jy dit vir die res van jou lewe.
“Ek nooi gereeld landbou-onderwysers en kleuterskole na my plaas,” vertel hy en voeg by dat hy glo dit is belangrik om op hierdie manier ’n liefde vir landbou onder kinders te kweek.
Die Nambahu’s boer ook met verskillende soorte bokke – boerbokke en dwergbokke.
“Ons het ook verskillende soorte skape en hulle is mak – die kinders kan hulle vryf,” het hy vertel.
Hy boer bykans reg langs die teerpad en sê sy deure staan ook oop vir mense wat hom wil kom besoek en meer oor sy boerdery wil leer.
Boeredae word ook gereeld by hom aangebied deur onder meer AgriBank, MSD of AgriGrow.
“Dit maak my bly as ’n boer as ek sien ek kan ’n verskil in die lewe van ’n ander boer, jou eie lewe en in die land maak,” het hy vertel.
Joel glo daaraan dat veral plaaswerkers aan opleiding blootgestel moet word en dat boere onderrig in hul eie tale moet kan ontvang sodat hulle werklik kan verstaan wat hulle leer.
[email protected]