Groot feespret wag op Windhoekers

Yandi Du Plessis
Groot opgewondenheid heers oor die 11de Windhoek Woordfees wat vanjaar van 3 tot 5 November by Droombos aan die buitewyke van die hoofstad asook langs die kus aangebied word.
Met niks minder as nege produksies nie, is daar tydens vanjaar se fees iets vir almal se smaak. Die fees bied boonop ’n goeie mengsel van plaaslike toneel, sang, musiek en woordkuns, asook toptoneelstukke en musikante uit Suid-Afrika. Van die produksies sal ook van 1 tot 3 November by die kus aangebied word om die fees na ’n groter gehoor in Namibië te bring.
Die kaartjieverkope open eersdaags op eticket.my.na. Hier is die volledige program waarna jy kan uitsien:
Vrydag 3 November 2023
Liefdesbriewe
’n Middeljarige man en vrou, gespeel deur Chrisna Beuke-Muir en Attie van Wyk, herleef hul liefdesverhouding in die liefdesbriewe wat hulle oor die jare vir mekaar geskryf het. Hulle laerskoolbriewe verklap die onskuld van sewejariges, maar ook die seksuele bewuswording van mekaar. Namate die twee se paaie skei, voer ontroering en teerheid die botoon. Die gehoor word meegesleur na die beloofde land van die jeug en die verspeelde kanse van die middeljare.
Die oorspronklike toneelstuk, Love Letters, is die pennevrug van die Amerikaner Pete Gurney. Dit is in verskeie tale vertaal.
WINDHOEK
Plek: Droombos Rooi Galery
Tyd: 18:30
Koste: N$150 by https://eticket.my.na/event/woordfees
SWAKOPMUND
Datum: 1 November
Plek: The Dome
Tyd: 18:00
Koste: N$150 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Laerskool Noord – ’n Komedie
Laerskool Noord se leuse is “Kyk Noord en stoot voort”, maar in hierdie lekkerlag-produksie is dit alles behalwe die geval. Drie onderwyseresse beplan ’n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans, en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie personeelkamer ’n tikkende tydbom. En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord. Kan dit een van hulle wees?
Met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Neels Coetzee en die bekroonde akteur Gideon Lombard, as regisseur. Teks: Ilne Fourie. Ouderdomsbeperking van 13.
WINDHOEK
Plek: Droombos Black Barn
Tyd: 20:00
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
WALVISBAAI
Datum: 2 November
Plek: Walvisbaai Privaatskool
Tyd: 20:00
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Saterdag 4 November
ATKV Tienertoneel

Die toneelstuk Gestres bied ’n kykie in die lewe van vier tieners. Elke tiener beeld ’n gedeelte van hul lewe uit – dié deel wat vir hulle stres veroorsaak. Dit is ’n produksie deur Windhoek Afrikaanse Privaatskool en die wenner van vanjaar se ATKV Tienertoneel-kompetisie.
WINDHOEK
Plek: Droombos Black Barn
Tyd: 10:00
Koste: N$50 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Poppekas
Faantjie, Dougie en Oom Rias gaan die kleinspan met hulle manewales vermaak.
Plek: Droombos se Tuin
Tyd: 11:00
Koste: N$50 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Skrywersgesprekke
Kom skuif reg vir die gebruiklike skrywersgesprekke waartydens diep gedelf word in die digter- en romansier-siele van die Namibiese woordkunstenaars Emmie Bedeker, Henriëtte van Wyk, Carmelita Dentlinger en die bekroonde Piet van Rooyen.
Plek: Droombos Rooi Galery
Tyd: 11:00
Koste: N$150 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Musiek in die Tuin
Van 12:00 tot 14:00 is dit siëstatyd. Koop iets te ete en drinke en vlei jou neer op die grasperk waar plaaslike musiekkunstenaars gratis musiek maak.
Hoerkind
Die skywer en joernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ’n randeier, is deur die bekroonde akteur en teaterskepper Margit Meyer-Rödenbeck in ’n toneelstuk verwerk.
Die titel verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind tegesnou was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle losieshuise vol randeiers (buitestanders) in Tamboerskloof. Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles “aanhou beweeg en geraasmaak”, met groot sukses.
Die gerekende akteur Geon Nel vertolk die hoofrol.
Plek: Droombos Black Barn
Tyd: 15:30
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Marion Holm
Dis die klein jakkalsies soos bure, honde en mense wat daagliks Marion Holm se wingerd verniel. Sy wíl nie gil nie, sy gaan soek nie smart of geniet verdriet nie. Sy systap sonde en stouterds, sy glimlag gedwee en lag luid, sy boks braaf en keer vir seer. Sy wys haar grys en is selfs skaam vir faam. Sy praat in prentjies oor die alledaagse lewe met daai tipiese Holm-eerlikheid én heerlikheid. Kom lag saam oor die chaos en die aanslae. Voel dadelik beter oor jou eie kleinighede as Marion lostrek met stories oor vakansies, vegetariërs en vrouwees.
WINDHOEK
Plek: Droombos Black Barn
Tyd: 17:30
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
SWAKOPMUND
Datum: 1 November
Plek: The Dome
Tyd: 20:00
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Joshua na die Reën
Die Afrikaanse liedjeskrywer en musikant Jacques de Villiers, a.k.a. Joshua na die Reën, se musiek word as “strelend, slim en vloeiend uit die hart” beskryf. Hy en sy band gaan feesgangers bekoor met ’n interessante kombinasie van kontemporêre klanke en instrumente.
WINDHOEK
Plek: Droombos Black Barn
Tyd: 20:00
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfees
SWAKOPMUND
Datum: 3 November
Plek: The Dome
Tyd: 20:00
Koste: N$250 by https://eticket.my.na/event/woordfeehttps://eticket.my.na/event/woordfeess
Sondag 5 November
Koorkonsert

Koorklanke vir die hele gesin deur gesogte plaaslike kore. Kom luister na die WAP Junior Koor, Windhoek Gimnasium Junior Primêre Koor, St. George’s Junior en Senior Primêre Koor, Windhuker Männerchor en die St. George’s Volwasse Ensemble.
Plek: Droombos se Tuin
Tyd: 18:00
Koste: N$50 by https://eticket.my.na/event/woordfees
Hou die Windhoek Woordfees se Facebook- en webblad dop om op hoogte te bly van alle Woordfees-nuus.