Gemeenskap se hulpkrete geïgnoreer
Ten spyte van hulpkrete deur die Nyanyukweni-gemeenskap van die Tobias Hainyeko-kiesafdeling aan amptenare van die Windhoek munisipaliteit ’n maand gelede, sê inwoners hul probleme bly onopgelos.Gemeenskapsleier Josephine Kamati het verlede week gesê die gemeenskap het onlangs probeer uitreik na Windhoek se burgemeester, Sade Gawanas, maar hulle is ingelig dat sy tans nie in die land is nie.
“Die situasie bly onveranderd. Die gemeenskap sukkel steeds met benodigdhede soos toegang tot water en behoorlike ablusiegeriewe. Ons maak gebruik van ’n gemeenskaplike kraan wat ver van ons huise af is. Kinders moet van die rivierloop gebruik maak wanneer hulle toilet toe moet gaan,” het Kamati gesê.
In 2020 is die gemeenskap geskuif ná swaar reën hulle uit hul huise gedwing het. Hulle sê destyds is hulle belowe dat hulle na hul huise kan terugkeer nadat die reënseisoen verby is. Sedertdien moes hulle egter klaarkom met watter hulpbronne ook al tot hul beskikking was.
’n Gemeenskaplike kraan, wat meer as 3km daarvandaan geleë is, is hul enigste bron van skoon water. Om dit te bereik, moet sommige gemeenskapslede gladde gruispaadjies en steil walle navigeer.
Bitter koud
In die winter, het gemeenskapslede deur die loop van die middag water opgevang om ’n lang wandeling in die koue te vermy.
“Net verlede week het my dogter ’n ongeluk gehad toe sy teruggekeer het met ’n emmer water. Die gevare het nie verminder nie. Soggens is dit so koud dat die kinders nie so ver kan loop vir water nie,” het Kamati gesê.
Hilma Laurence, nog ’n bekommerde lid van die gemeenskap, het gesê: “Om die toilet in die bosse te gebruik is skrikwekkend, want dit is kouer in ’n rivierbedding as enige ander plek.”
Gawanas het verlede maand aan hierdie publikasie gesê dat sy nie bewus is van die gemeenskap se lot nie, aangesien hul hervestiging nie onder haar toesig plaasgevind het nie. Sy het egter gesê sy sal ondersoek instel.
Sy was nie beskikbaar vir verdere kommentaar nie.