Liefdadigheidsorganisasie sorg vir bejaardes

Elizabeth Josef
Die Hadula Charity Foundation, wat twee jaar gelede gestig is, bied versorgingsdienste aan pensioenarisse wat nie in staat is om behoorlik vir hulself te sorg nie.
Volgens stigter Simon Hadula (27) is die idee gebore toe hy die lot van bejaardes gesien het en eerstehands ervaar het hoe dit kan voel as jy nie na jouself kan omsien nie.
“Ek het ’n ou man in die strate sien loop, hom na sy huis gevolg en uitgevind dat hy van vuil borde eet. Sy huis was ook nie baie skoon nie. Toe begin ek hom help met higiëne en gratis huiswerkdienste, sy klere, komberse en skottelgoed was, en sy huis skoonmaak.”
Hadula het ook saam met hom na doktersafsprake begin gaan.
Hierdie ervaring het hom geïnspireer om die liefdadigheidsorganisasie te begin. Die stigting het nou drie takke regoor Namibië – in Windhoek, asook in die Kavango-Oos- en Oshanastreek – en meer as 100 lede.
Die stigting glo dat rommelstrooiing geen plek in Namibië het nie en streef na ’n skoon en gesonde omgewing.
“Ons maak ten alle koste skoon en beskerm ons omgewing, en streef daarna om bewustheid te skep om inwoners op te voed oor die belangrikheid daarvan om hul omgewing skoon te hou. Ons raai inwoners ook aan om die verantwoordelikheid te deel om hul omgewing skoon te hou,” het Hadula gesê.
Die stigting se lede gee elkeen geldelike asook nie-monetêre bydraes om die aankoop van skoonmaakmiddels te ondersteun.
Lede doen die algemene instandhouding van die huise wat hulle besoek en was wasgoed vir individue en ander wat hulp nodig het.
“Ons streef daarna om ’n helpende hand aan weeskinders en minderbevoorregte mense te gee deur skenkings van nie-bederfbare kos, klere, skoene, komberse, skoolitems, en meer te gee,” het Hadula gesê.
Tot dusver het die stigting ses huise bygestaan en hoop om gedurende die res van die jaar baie meer te doen.
Vir meer inligting, kontak 081 573 5223.