'My hart was seer oor Matewis-kat'

Iréne-Mari van der Walt
"Die tannie is gebreek." So sê Inger Preis van die Kattebeskermingsvereniging van Namibië (CPS) wat onlangs ’n bejaarde inwoner van die Seniorpark-aftreeoord se kat moes verwyder, nadat inwoners ingelig is hulle mag geen troeteldiere aanhou nie. "Ek voel net gee die oumense ’n 'break'. Baie van hulle het niks in hulle lewe nie," het Preis gister by navraag gesê. Matewis, Die volwasse mannetjiekat, Matewis, is volgens Preis in 'n moeilike groep om 'n nuwe huis voor te vind. Volgens Preis het die bestuur van die aftreeoord aan inwoners gesê hulle kan nie troeteldiere toelaat nie, omdat inwoners glo dan net sowel hul kinders en kleinkinders by hul eenhede sal huisves. Verskeie van die inwoners se troeteldiere is glo ’n maand gelede reeds afgevat, met die bestuur wat volgens Preis voel dieselfde reël moet vir almal geld. ’n Inwoner wat verkies om anoniem te bly en vir sowat 18 maande na Matewis omgesien het, sê hy was nie die enigste troeteldier by Seniorpark nie. Nadat Matewis egter deur die CPS verwyder is, het baie inwoners ook glo van hul troeteldiere ontslae geraak. Volgens die inwoner was Matewis ’n wilde kat wat in die rivierloop naby die aftreeoord gevind is. "Wat moes ek gemaak het met Matewis wat as ’n babakatjie sonder ’n ma in die rivier rondgeloop het?" Matewis het volgens die inwoner homself oor 'n tydperk in die aftreeoord tuisgemaak. "My hart was seer en stukkend oor Matewis-kat," sê die inwoner oor die oomblik toe CPS hom kom verwyder het. "Dis rivierkatte wat hier rondloop. Die inwoners gee hulle kos om te keer dat die katte by hul woonstelle inkom en die vleis eet wat hulle uitgehaal het om te ontdooi. Dit keer dat hulle kwaad doen. Die katte hou ook die muise en die slange weg." Wil die bestuur van Seniorpark ’n aftreeoord sonder diere hê, sal die kwessie van die rivierkatte ook aangespreek moet word, sê die inwoner. Matewis is tans in CPS se sorg en sal binnekort na sy nuwe huis oorgeplaas word. "Ek is 'fine' solank hy goed aanpas by sy nuwe huis," sê die inwoner. Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se direkteur vir die Khomasstreek, Thomas Uukola, sê dit is ’n bestaande beleid dat senior burgers nie toegelaat word om troeteldiere by aftreeoorde aan te hou nie. "Ons is tans besig om dit te hersien en dit strenger te maak," het Uukola gesê. Volgens hom is dit om te voorkom dat inwoners by openbare aftreeoorde deur iemand anders se troeteldiere te na gekom word. "Jy mag dalk dink jou dier is baie soet en hy sal niemand skade aandoen nie, maar een dag mag hy dalk net iemand seer maak. Dan is dit beter om dit eerder te voorkom, as om die skade te probeer bestuur. Ons eerste prioriteit is veiligheid vir almal," het hy gesê. Die reël is ingestel om te voorkom dat die ministerie ’n gesondheidskwessie op hande het, sê Uukola. "As iets gebeur as gevolg van iemand se troeteldier, raak dit nog ’n verantwoordelikheid van die ministerie." Volgens hom het doktersbriewe wat eis dat bejaardes om gesondheidsredes 'n troeteldier aanhou, 'n gier geword. "In daardie geval skep jy ’n situasie wat jy nie kan beheer nie." Alternatiewe maniere kan volgens Uukola ná voldoende navorsing en voldoende konsultasie met rolspelers geïmplimenteer word om die eensaamheid van bejaardes te verlig. "Ons probeer om ’n bevorderlike omgewing vir ’n ieder en ’n elk te skep, maar ons wil seker maak dat daar nie ’n rumoer is nie," het hy gesê. - [email protected]