Rugbyklub maak skoon by spa

Aurelia Afrikaner
Met die hoop dat die Reho Spa binnekort weer sy deure sal open, het die FNB Rehoboth Rugbyklub ingespring om hand by te sit om die geriewe skoon te maak.
“Ons het ons eie toerusting geneem, die burgemeester gebel en begin skoonmaak,” vertel Marschell Diergaardt, die klub se president.
Volgens hom is dit die klub se wens dat die ikoniese geriewe tot sy volle glorie herstel sal word vir die publiek om te gebruik.
Die klub se bestuur en spelers wat ook daarop gefokus is om hul gemeenskap te dien, het saamgespan om broodnodige ondersteuning aan behoeftige inwoners in die plaaslike gemeenskap te bied. Geld is ingesamel om kospakkies ter waarde van N$314 elk te koop en aan 17 huishoudings in Blok E te oorhandig.
“Die reaksie van die mense het ons harte gebreek, hulle het trane in hul oë gehad,” vertel Diergaardt. “Dit het ons só geraak dat ons besluit het om dit weer te doen.”
Dié uitreik-inisiatief is met die hulp van die gemeenskapsleier Bartholomeus (Pietertjie) Pieter gedoen om te verseker dat inwoners met die grootste behoeftes gehelp word.
Hoewel daar kritiek was omdat dit op sosiale media gedeel is, het Diergaardt dié besluit verdedig. “Hoe gaan die gemeenskap weet ons gee regtig om as ons dit nie wys nie? Ons wil hê mense moet sien dat ons teruggee.”
Die klub staan, ook voor sy eie uitdagings, veral met betrekking tot finansiering. Talle van die spelers is werkloos wat dit vir hulle moeilik maak om ten volle tot die inisiatiewe by te dra.
“Die gewilligheid van spelers om by te dra wat hulle kan, het ons gehelp om ons doelwitte te bereik. Vier of vyf spelers sal saam bydrae om ’n pakkie te skenk.”
Volgens Diergaardt het die uitreik na die gemeenskap ’n noodsaaklike aspek van die klub se aktiwiteite buiten rugby geword.
“Ons organiseer gewoonlik hierdie uitreike gedurende langnaweke of ná die rugbyseisoen. Dis ’n manier om ons jong spelers op hoogte te hou van die werklike kwessies wat rondom hulle gebeur en om hulle weg te hou van die gevare op straat.
“Die heropening van die Reho Spa sal ons gemeenskap baie bevoordeel. Daar is geen ontspanningsgeriewe in Rehoboth nie en met die heropening sal talle jong mense so van die strate af gedwing word.”
Hy het ook namens die klub hul dank uitgespreek vir FNB se borgskap van die Premierliga. “Sonder FNB se borgskap sou ons nie as ’n klub kon voortgaan nie. Ons is opreg dankbaar, maar erken ook die behoefte om uit te reik na die gemeenskap wat ons help.
“Ons gemeenskap en besighede in Windhoek is altyd gewillig om in rugby te belê en dit inspireer ons om dieselfde te doen.” – [email protected]