Aas vir oorlewing

Inwoners sif deur rommel om te oorleef
Met armoede wat die hoogte inskiet, kry inwoners van Windhoek se informele nedersettings nog swaarder.
Jemimah Ndebele
Met beperkte hulpbronne en min geleenthede vir inkomste, het inwoners van die Mukwanangombe-nedersetting naby Babilon in Windhoek, 'n toevlug gevind om deur die nabygeleë stortingsterrein te sif op soek na enigiets wat hulle vir geld kan verkoop.
Maria Hailonga (26) het gesê hul daaglikse roetine sluit in om blikkies wat op stortingsterrein gevind is, te vergruis en te verbrand voordat hulle dit aan herwinningsmaatskappye verkoop.
"Soms kry ons ou klere en skoene wat ons was en ook aan plaaslike inwoners verkoop," het sy bygevoeg.
“Dit is moeilik, want as jy niks kry om te verkoop nie, gaan jy honger slaap en dit lei daartoe dat baie voel hulle geen ander keuse het om by mense se huise in te breek en te steel nie,” het sy gesê terwyl sy die sweet van haar afvee.
Ten spyte van die bedreigings wat hul gesondheid en veiligheid inhou, is Hailonga en haar twee jonger broers en susters maar 'n fraksie van die aantal mense wat hul dae spandeer om deur vullis te sif wat deur die munisipaliteit by die stortingsterrein in die Moses //Garoeb-kiesafdeling gestort word.
“Ons gesondheid is in gevaar, maar wat kan ons doen? Soms kry ons selfs babalykies, maar skuif dit net eenkant toe en gaan voort met soek na wat eintlik vir ons nuttig kan wees.”
Die gebrek aan basiese geriewe soos water en elektrisiteit het baie inwoners van Mukwanangombe laat sukkel om te oorleef, en is hulle opgewonde wanneer nuwe rommel by die stortingsterrein gestort word.
Frans Petrus (30) sluit by die groep aan vir die daaglikse vullissifting nadat hy in die vroeë oggendure afskrifte van sy CV by verskeie maatskappye afgee het.
"Dit is net 'n kwessie van glo en hoop dat dinge eendag beter sal wod," het die gekwalifiseerde passer en draaier gesê.
Hoe erg dit ook al mag wees, is die situasie by Mukwanangombe nie uniek nie. Baie ander inwoners van nedersettings aan die buitewyke van Windhoek staar soortgelyke uitdagings in die gesig, wat weer herinner aan die ekonomiese ongelykhede in die land se hoofstad.
Pogings om kiesafdelingsraadslid Stefanus Ndengu te bereik, was vergeefs.