Gummybear steel seniors se harte

Tanja Bause
Gummybear, die klein ponie met die reusehart, het by bejaardes in die Eros Manor-aftreeoord in Windhoek gaan kuier.
Sy eienaar is Vesta Burmeister, wat terapeutiese perdryklasse naby Windhoek aanbied.
“Gummybear is nou ses jaar oud en van kleins af is hy ’n regte 'lovebug' wat net aandag en drukkies wil hê. Hy is ’n liefie-diefie en ek wou hom nog altyd oplei sodat hy mense wat nie na my toe kan kom nie, kan besoek. Hy is net liefdevol en soek aanhoudend aandag, dit is in sy aard.”
Gummybear is ‘n ou hartebreker wat nie net die oumas se harte gesteel het nie. Hy het ook al onder andere by kankerpasiënte in die onkologiesentrum, die Side by Side Early Intervention Centre vir kinders met gestremdhede en by die Dagbreek-skool gekuier.
“Met hom kan ek na mense toe gaan en bietjie rustigheid na hulle toe neem. Ekself het kanker gehad en my eerste besoek was aan die onkologiesentrum. Dit is ‘n goor plek en dit is glad nie lekker om daar te sit nie. Gummybear neem rustigheid en vreugde na die mense toe. Hy bring bietjie van daar buite in na hulle toe en maak die ure effens meer draaglik.”
Volgens Burmeister is daar talle toetse gedoen wat bewys dat perde ’n mens se hartklop kan afbring. Mense raak rustiger wanneer hulle naby perde kom.
“Ek kan nie sê wat Gummybear se besoek vir die bejaardes beteken het nie, want dit verskil van mens tot mens. Daar is egter iets aan perde wat mense op ‘n emosionele en geestelike vlak raak wat ek nie kan beskryf nie. Ek kan dit elke keer sien wanneer hy sy kop op hulle skote sit of as hulle aan hom vat, maar ek kan dit nie in woorde sit nie.”